Wat is ‘n Gereformeerde kerk?

Wat vir ‘n vraag is dit? Almal ken tog die antwoord. Regtig? Word Calvinisme nie té dikwels gereduseer tot 5 punte nie? Iemand sou antwoord: dit kan alles teruggevoer word na Luther en die 95 stellinge aan die kerkdeur van Wittenberg (1517) en Johannes Calvyn het die Reformasie deurgevoer na elke terrein van die gelowige se lewe. En toe..? En nou is daar gereformeerde kerke. Dit lyk asof sommige lidmate die Reformasie hier sien ophou. Om gereformeerd te wees, beteken vir baie lidmate nie veel meer as die basiese kennis van die twee hooffigure van die Reformasie wat ek hier bo genoem het nie.Wat die kerk vandag nodig het, is om terug te gaan na die beginsels van die Reformasie en weer die wortels van geloof en kennis te ondersoek. Dit is ontstellend om te sien hoe swak die gemiddelde gereformeerde lidmaat se kennis van die Reformasie en die betekenis daarvan in die lig van die Skrif en die wêreldgeskiedenis is.

watts

Malcolm Watts het onlangs ‘n boek geskryf met die titel: What is a Reformed Church? Hierin behandel hy die kenmerke van ‘n Gereformeerde kerk binne die raamwerk van die 5 sola’s van die Reformasie op so ‘n bevatlike wyse dat die werk vir enige kerklidmaat verstaanbaar en uiters waardevol sal wees.

Die bekende Joel R. Beeke het die voorwoord tot die werk geskryf: hierin sê hy dat dié werk van Watts in elke konsistorie en in elke gesin in ‘n Gereformeerde kerk se besit behoort te wees.

Nadat ek self onlangs die werk gelees het, kan ek regtig aanbeveel dat leraars oorweeg om hierdie werk van Malcolm Watts aan te skaf, en vir kerkraadslede tydens kerkraadskoling geleenthede voor te hou. Trouens, as die finansies dit toelaat – koop sommer ‘n paar en deel dit uit aan lidmate! Hierdie is die ideale geskenk wat ‘n kerkraad vir die belydenisklas kan gee op die dag van belydenis van geloof aflegging. As ‘n lidmaat hierdie boek gelees het (wat verstaanbaar genoeg geskryf is vir almal) sal baie van die vrae soos: waarom is ons Gereformeerd?; wat beteken Gereformeerd?; wat is my taak in die kerk?; is die kerk nog relevant?; is evangelisasie nog belangrik? en talle ander kwelvrae beantwoord word.

Ek het die volledige bronverwysing hier geplaas by nommer 26 indien jy belangstel.