Wanneer natuurrampe en virusse ons tref!

Die laaste paar weke is COVID-19 byna die enigste nuus wat mens hoor en sien. Dit verdwerg selfs fase 4 beurtkrag wat vandeesweek ingestel is, so al asof die beurtkrag ons net so terloops verontrief. En hoewel ons maar lig moet loop vir hierdie gogga, bring dit ‘n belangrike saak onder ons aandag: wat antwoord Christene wanneer natuurrampe en virusse ons tref?

Die afgelope jare het verskriklike natuurrampe die wêreld getref:

  • ‘n Groot Tsunami in Asië in 2004
  • Katrina in 2005
  • Sikloon Myanmar in 2008
  • Die aardbewing in Haiti in 2010
  • Tsunami in Sri Lanka en Indië in 2011
  • Geweldige brande in Australië in 2019
  • COVID-19 in 2020

Wanneer natuurrampe ons tref, vra mense gewoonlik vrae: waarom het dit gebeur? Wat kan ek doen? Het God dit veroorsaak? Waarom laat Hy dit dan toe?

God het al in die geskiedenis rampe oor die mensdom gebring: die vloed oor die aarde in Gén. 6; die verwoesting van Sodom en Gomorra (Gén. 18-19); droogtes, plae en peste en ‘n groot aardbewing in die tyd van Amos (Amos 4:6-12). Sommige rampe word deur die mens veroorsaak (Chernobyl, Bhopal, veldbrande). Rampe tref egter ook onskuldiges. Kyk bv. na Job 1:8-22; 2 Kor. 11:23-27.

Dus kan ons sê dat hoewel God natuurrampe en siektes kan gebruik om mense te straf, of om te roep tot bekering, dat God ook hierdie dinge toelaat. Die skepping is nie volmaak nie. As gevolg van die sonde is daar baie onreg en lyding en siekte op aarde. Die Here Jesus leer ons in Matteus 6:19-21 dat ons nie so geheg moet raak aan hierdie wêreld en al sy lekker dinge dat ons skatte bymekaar maak op aarde, wat verniel kan word en waar diewe kan inbreek en dit steel nie, maar dat ons skatte bymekaar moet maak in die hemel, omdat ‘n mens geneig is om jou hart te hou waar jou skatte is.

COVID-19 help ons om nie die wêreld te aantreklik te vind nie, en ons te herinner dat daar iets beter is, omdat hierdie wêreld nie ons woning is nie (Heb. 13:14 – Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.)

Baie mense van ons tyd dink dat hulle sonder God kan klaarkom. God laat dikwels hierdie soort rampe toe, om ons te verplig om na te dink oor die waarde van die lewe, hoe swak en verganklik ons is en dat ons nie tot alles in staat is deur ons eie krag nie, maar God wel nodig het.

Laat ons egter elke geleentheid aangryp om aan mekaar goed te doen – hierdie soort rampe gee ons die geleentheid om nie alleen aan onsself te laat dink nie, maar ook aan ons medemens. Laat ons bid en op God vertrou dat Hy alles ten goede laat meewerk op grond van sy liefde vir sy kinders. En laat ons die geleentheid benut om na te dink hoe nietig die mens is en hoe dikwels hierdie wêreld ons verlei om skatte hier op aarde bymekaar te maak. Die ou mense het nie verniet gesê: die doodskleed het nie sakke nie.