Verassing. Is dit ‘n beginsel of eie besluit?

In ‘n interressante verwikkeling het die Rooms Katolieke Vatikaan vroeër hierdie week nuwe riglyne vrygestel vir lidmate van dié kerk oor verassing.Volgens die verklaring van die Vatikaan word daar standpunt ingeneem teen ‘n persepsie by lidmate dat die liggaam van die afgestorwene aan die familie behoort en dat hulle self kan besluit wat om met die liggaam te maak. In dié verband verklaar die Vatikaan dat die liggaam aan God behoort en daarom behoort die kerk ‘n sê te hê ten opsigte van die optrede teenoor die afgestorwene.

In ‘n artikel gepubliseer op Time.com oor die verklaring van die Vatikaan is dit duidelik dat daar steeds bygeloof is by die Roomse besluit oor wat met die ligaam moet gebeur na afsterwe, bv. dat die verklaring betyds is vir die viering van Halloween en “All souls day”, wanneer die lewendes bid vir die siele van die afgestorwenes. Nietemin maak die verklaring van die Roomse kerk ‘n paar interressante opmerkings oor die hantering van die ligaam na afsterwe waarby ek graag kortliks wil stilstaan. In die verklaring word gemeen dat hoewel verassing reeds ‘n saak is waaroor die kerk positief is, die gebruik om die as van die afgestorwene in die see, lug of veld of soortgelyke plek te strooi, voorgee dat die Christene ‘n panteïsme, naturalisme of nihilisme voorstaan. Hiermee bedoel hulle dat die optrede van die Christene met die as van die afgestorwene so kan wees dat dit voorkom asof daar ‘n minagting vir die liggaam as God-geskape bestaan, en so die verwagting van die opstanding en die verlossing van die liggaam soos verwoord in die 12 artikels kan afwater.

Behalwe vir die feit dat ons nie kan saamstem met die Roomse beskouing oor die gebed vir die afgestorwenes en die verering van afgestorwenes nie, dink ek die verklaring van die Vatikaan spreek tog ‘n saak aan wat aktueel is binne die reformatoriese kerke ook: is verassing ‘n saak van beginsel of kan ‘n mens self daaroor besluit wat met die liggaam gebeur na afsterwe?

Ek dink nie alle gelowiges dink grondliggend oor die onderwerp nie, en pragmatiese redes soos die verval van begraafplase en ver afstande kan mos nie die enigste beginsels ter oorweging van ‘n saak wees nie?

In die lig van hierdie aktuele tema aangeroer hierdie week, het ek dit goedgedink om self iets te skryf oor die onderwerp van verassing, getiteld: Verassing of begrafnis. Wat die Bybel en die vroeë kerk sê? Indien jy dit wil lees, sal jy my artikel hier vind – https://gdssmit.files.wordpress.com/2016/09/verassing-of-begrafnis-gds-smit.pdf.