Twaalfde grot by Qumran ontdek

Die wêreld het vanoggend wakker geword met die nuus dat argeoloë ‘n twaalfde grot by die bekende Qumrangrotte ontdek het. Vir baie jare was daar bespiegelinge onder geleerdes dat daar moontlik nog grotte in die omgewing is wat manuskripte van die Essener-gemeenskap by die Dooie See kon bevat (vgl. bv. my artikel hier waarin ek reeds in 2007 verwys het na die moontlikheid).Die twaalfde grot het antieke perkamente en papirusse bevat. Ongelukkig was die grot leeg, maar daar is bewyse dat daar manuskripte was. Slegs een perkament is in die grot gevind, maar daar is gereedskap en ander toerusting in die grot gevind wat bewys dat daar in die moderne tyd mense in die grot was. Die perkamente is mees waarskynlik deur diewe gesteel wat antieke ware op die swart mark verkoop vir groot wins. Hierdie optrede is soortgelyk aan wat met die aanvanklike ontdekking van die Qumranmanuskipte in 1947 gebeur het, toe verskeie manuskripte verdwyn het uit die grotte nadat bekend geword het dat daar ‘n vonds ontdek is. Ek reken daar kan voortaan verwys word na die manuskripte van grot 12 as die 12Q-manuskripte.

Hierdie (van 1947) en die 12Q-manuskripte (2017) sal moontlik iewers in die toekoms aan ‘n museum of versamelaar aangebied word, wat hopelik die dokumente aan die lig sal bring (Daar is tans wêreldwyd ‘n grootskaalse soektog aan die gang na verskeie verlore manuskripte uit die antieke samelewing. Hierdie vonds sal moontlik iewers aan die lig kom).

Ek het my artikel van 2007 opgedateer en herpubliseer. Jy is welkom om dit hier te lees: Die Dooie Seerolle of Qumranmanuskripte