Sout van die aarde op onverwagse plekke

Na die uitspraak van die hooggeregshof oor godsdiens in skole gister, is ons land nog een stappie verder van die Bybel en een stappie nader aan die suiwer sekulêre  samelewing wat graag gekoester word in ons land.

Terwyl donker Afrika se lig dowwer brand, is daar ‘n stad wat bo op ‘n berg lê wie se lig skyn op plekke waar mens dit die minste sou verwag.

‘n Vlammetjie brand iewers aan die ander kant van die aarde en sy lig skyn tot in Suid-Afrika. Dink aan Asië, dan dink jy aan Boeddhisme en vreemde eetgoed en oorbevolking.

Samoa het hierdie maand amptelik hulle grondwet verander om hulleself van ‘n sekulêre staat na ‘n Christen-staat te herdoop.

Samoa het sedert die begin van hulle onafhanklikheid in die grondwet verwys na “God”, wat natuurlik baie breed verstaan kan word, maar het nou amptelik wysigings aan die grondwet goedgekeur wat Samoa as sekulêre staat ontbind en as Christen-staat verklaar.

Die belangrikste rede hiervoor? Samoa is bewus van kulturele veranderinge wat deur sekulêre bewegings in die res van die wêreld konstitusionele veranderinge opeis om sodoende kulturele revolusies te bewerkstellig. Hier verwys hulle spesifiek na dieselfde-geslag huwelike wat deesdae op die spits gedryf word in meeste Westerse lande, ook by ons. As dieselfde-geslag huwelike in Samoa op die agenda kom, sal hulle net eenvoudig verklaar dat hulle ‘n Christen staat is, wat in die lig van die Bybel, dit nie sal toelaat nie.

Deur Samoa as Christen-staat te verklaar, meen die regering, sal hulle geen keuse hê as om standpunt in te neem téén die wat besig is om die Westerse kulture se fondasies te skud nie.

Dis nou sout van die aarde op onverwagse plekke.