Reformasie 500: Ons is almal bedelaars

Vanoggend het kerkklokke regoor die wêreld gelui ter herdenking aan die 500 jaar Reformasie wat vandag gevier word. Ook hier in Suid-Afrika het kerkklokke oral van vroeg reeds gebeier.

Ons dink terug aan 31 Oktober 1517 (vandag 500 jaar terug) toe Martin Luther die 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker het wat die Protestantse Reformasie aan die brand gesteek het.

Een van die verse in die Bybel, nl. Romeine 1:17 het Luther nagte wakker gehou. Daar staan: …die regverdige sal uit die geloof lewe. Vir hom was die verklaring duidelik dat mens deur die geloof regverdig word, maar sy probleem was dat die Rooms-Katolieke kerk, van wie almal op daardie stadium lidmate was, geleer het dat ‘n mens regverdig word deur jou dade. Luther skryf in een van sy werke: ek het hierdie vers begin haat, want ek het geglo dat ek nie deur geloof kan lewe nie omdat ek nie regverdig was nie. Hoe meer hy homself kasty het en hoe meer hy homself oortuig het van sy bekering, hoe meer het Luther onder die indruk gekom van sy tekortkominge en hoe hy tekort skiet.

Die draaipunt in Luther se lewe het nie van homself gekom nie, maar van een van sy leermeesters. Hy is deur een van sy dosente beveel om ‘n doktorsgraad in Wittenberg te gaan doen om professor in Teologie te word. Die kerk sou  hierna iemand wat reeds getwyfel het in die waarheid van die kerk se leer, in diens neem om teologiese studente oor die kerk se leer te onderrig. In 1514 het hy ‘n lesing aangebied oor Psalm 72 en verklaar dat God die mens oordeel omdat Hy regverdig is. Dit was asof daar ‘n liggie aangegaan het in Luther se verstand toe hy besef dit beteken dan dat die mens deur die genade van God regverdig word en nie deur die werke nie.

Die Protestantse Reformasie het alles in die wêreld sedertdien verander: politiek, ekonomie, kerk, staat en die geskiedenis.

Kom ons dink in dankbaarheid vandag saam terug aan die wonderlike gebeurtenis 500 jaar gelede.

Die laaste woorde wat Luther voor  sy dood  in 1546 op ‘n stuk papier neergeskryf het, was: “Ons is almal bedelaars”. Dit was die kenmerk van Luther se teologie: dat God alles is en ons by God niks verdien nie. Ons is bedelaars, ja – maar ook kinders wat deur die geloof alleen kan lewe! Die kerkklokke van Reformasie 500 herinner ons vandag aan die bittere stryd wat ons vaders gehad het om die waarheid van die Evangelie van Christus aan ons oor te lewer. Dit herinner ons ook dat ons moet lewe deur Genade alleen, Geloof alleen, Christus alleen, die Skrif alleen en tot eer van God alleen.

Ecclesia semper reformanda est.