Oordenkings oor Christelike vergifnis

Skrifoordenkings oor vergifnis.

Die stryd om te vergewe en die betekenis van God se vergifnis

deur: Prof. Gerrit Smit

Vergifnis – na alle kante                                     

Lees: 1 Joh. 1:5-2:2                                                                       

Teks: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” – 1 Joh. 1:9.

Oorsaak van die sonde?

Waarom lyk die wêreld so? Skakel maar die televisie aan. Maak die koerante oop: moord, misdaad, korrupsie? Toe die Here die aarde gemaak het, was alles dan só goed en mooi (Gén. 1:31)? Ja, ook die skepping van die mens was goed en mooi. Die verdorwenheid van die mens kom dus nie uit die skepping nie, maar moet op ‘n ander plek gesoek word. Ons hoef egter nie te wonder waar al die onreg op die aarde vandaan kom nie. Dit kom uit die mens, ja, uit sy hart. Jakobus leer: Moenie dwaal nie (Jak. 1:16) – sonde kom uit die hart en as dit vertroetel word, mond dit uit in dade. Die mens het deur sy eie sonde die rein skepping kom besoedel.

Is daar uitkoms?

Die Skrif leer ons in 1 Johannes 1:8-10 dat daar vir ons ‘n uitkomkans is – bely die onreg! Wanneer ons ons sonde bely, is Hy getrou en regverdig om dit te vergewe, leer vers 8.

Ook horisontaal

Sondevergifnis kan egter nie van een kant af kom nie. Die mens moet waak daarteen om die genade van die Here te wil toe-eien en die vergifnis te wil omhels, sonder om die vergifnis horisontaal uit te deel na die medemens. Soos Christus vergeef het, moet julle ook vergeef. As jy dit regkry om te vergewe, het jy die bewys van God se genade in jou lewe (Heidelbergse Kategismus, Sondag 51, vraag 126). God gee sy genade aan die sondaarmens wat sy lewe aan God verskuldig is. Dit gee jou die krag om vanuit die genade te kan leef in vergifnis.

Om oor te bid: Vra jouself: watter sonde het jy nog nie bely nie?


Soos gras en tog vergewe                                             

Lees: Psalm 103

Teks: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” – Psalm 103:12.

Die mens is verganklik

Soos die gras wat in die dorre Palestina net na die reën uitkom om maar weer in die skroeiende son te verdroog binne enkele dae, so is die mens. So kortstondig soos die blomtydperk van ‘n lenteblommetjie in die veld. As die warm woestynwinde daaroor waai, bly daar niks oor om jou te herinner dat daar eens ‘n blommetjie gestaan het nie.

God is ewig

Maar God is ewig: Die psalmdigter sien God se wonderdade in die verlossing van die mense deur die geskiedenis. Hy vergewe: Die lankmoedigheid van God dwing die mens tot selfondersoek as jy besef Hy reken die sonde nie toe nie. Hy verlos: Hy maak die weg oop na die ewige lewe.

Augustinus het eenmaal gesê: “…wanneer God in die hart van ‘n ongelowige werk om op sy roepstem te reageer, neem Hy die hart van klip weg en gee ‘n hart van vlees”.

Barmhartig en genadig is die Here

Omdat die Here weet wie en wat ons is, het Hy medelye met ons swakheid, daarom was dit in sy raadsplan dat die sonde wat die mens van die ewige lewe weggehou het, in Christus nie meer ‘n rede is om God nie lief te hê nie. Oor die liefde en barmhartigheid van die Here verwonder die digter van Psalm 103 hom (lees veral verse 8-12). Ons het ‘n groot Verlosser. Dit beteken vir ons prakties dat Christus groter is as die sonde en dat hy jou vergewe. Dit is barmhartigheid. Ja, dit is genade!

Om oor na te dink:

Kan ‘n lyk uit sy eie opstaan? Natuurlik nie! Deur die sonde is ons uit eie keuse dood vir God. God alleen kan die dooie mens opwek om te lewe tot sy eer. Wat beteken dit vir jou?


Sprakeloos oor die liefde                                    

Lees: 1 Joh. 3:1-12

Teks: “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” – 1 Joh. 3:1.

Kinders van God

Dat ons, wat nietige en skuldige sondaars is, die ewige, almagtige en heilige God ons Vader kan noem en onsself sy kinders, is ’n voorreg wat so groot is: dit laat ons sprakeloos. Daarom kon Johannes ook sê: “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” (1 Joh. 3:1).

Want ons het ‘n Hemelse Vader

Daar is geen ander god wat deur die mense in hulle dwaasheid uitgedink is, wat in hierdie opsig naastenby met die enige, ware God vergelyk kan word nie. Die Boeddhiste ken geen hemelse vader nie, want hulle god is maar net ’n vae, onbegryplike, onpersoonlike wese. Ook die god van die Moslems (aanhangers van Mohammed) is geen vader nie, want hulle word oorgelewer aan die blinde “noodlot” wat die geskiedenis deur goed en sleg bestuur.

Maar ons God is om Christus ontwil ons Vader. Dit beteken dat die troue sorg van ’n aardse vader en die sagte liefde van ’n aardse moeder in Hom verenig en duisend maal vermenigvuldig is. Ons het ’n God met wie ons die aangenaamste, persoonlike omgang kan hê – baie intiemer as ’n kind met sy aardse vader of moeder.

Dit gee aan ons ‘n verantwoordelikheid

Ons doen helaas nog sonde, maar die sonde word nie toegereken nie (1 Joh. 3:9) omdat dit reeds in Christus aan die vloekhout van die kruis gedra is en daarvoor geboet is. Die opdrag om mekaar lief te hê vloei voort uit die besef van die onuitspreeklike liefde van die Vader vir sy kinders. Dit laat ons voorwaar sprakeloos.

Om oor te bid: Bid die Hemelse Vader dat hy jou sal leer om te kan vergewe soos Hy jou vergeef het.


Vir ewig en ewig

Lees: Heb. 7:11-28

Teks: “Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het” – Heb. 7:27.

Sonde is ernstig

God beskou sonde in ‘n baie ernstige lig. Dit is so ernstig dat Hy in die Ou Verbond van die gelowige verwag het om van sy kosbare besittings op te offer om skuldvergifnis te verkry. Hierdeur moes hulle die swaar gevolge van die sonde teen God en die naaste aan die sak voel en sodoende tot besef van die erns van en die gevolglike straf op die sonde kom.

Vergifnis is kosbaar

Die sonde word in so ernstige lig beskou dat dit die dood van God se geliefde Seun gekos het. Niks minder en niks meer is genoeg om vrede te bring tussen God en mens nie! Wanneer die besef deurbreek van die prys wat betaal is aan die kruis, word die belydenis oor die vergifnis van sonde dienooreenkomstig so kosbaar vir die gelowige.

Om oor na te dink:

Sondebesef is baie belangrik op die pad na vergifnis en genesing. Baie mense neem egter hulle sonde so ernstig op dat hulle nie vrede kan maak met die Bybelse boodskap van totale vergifnis nie.

Afgeskryf!

Die Hebreër-brief sê: Die versoening was eens en vir altyd gedoen (Heb.7:27). Dit is gevolglik nie nodig om enige ander versoeningsoffer te bring om vrede tussen God en die mens te bewerk nie. Hy alleen kan volkome red (Heb. 7:25). Dit beteken dan gevolglik dat die sonde vir ewig en ewig betaal is. As jy aanhoudend loop en tob oor die sonde van die verlede, is Golgota se wonder nog nie vir jou ‘n werklikheid nie. God het alles vergeef – onverdiend!

Om oor te bid: Dink na daaroor of jy al vrede gemaak het met die sondes van die verlede in die belydenis van Christus se genadige verlossing.


Alles op sy skouers

Lees: Mt. 27:45-56

Teks: “…en omtrent die negende uur het Jesus met ’n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?” – Mt. 27:46.

Godverlate seun van God

As enige van ons daardie dag by die voet van die kruis moes staan toe Hy hierdie laaste woorde van Godverlatenheid uitgeroep het, sou ons hart seker gebreek het van angs en hartseer. Een ding is seker – jy sou dit vir die res van jou lewe onthou het! Die woorde sou waarskynlik oor en oor in jou gedagte herhaal het. Is dit genoeg om die diepte van sy leed net rondom Paasfees te hoor? Nee, duisendmaal, nee! Hoe meer jy dit hoor, hoe meer moet jy hoor wat dit gekos het om vir jou sonde te betaal.

Sodat ons nie Godverlate is nie

Jy behoort seker te weet dat die woorde van die teks nie die eerste maal hier in die Bybel opgeteken is nie, maar die woorde van Dawid in Psalm 22 is? Dawid voel soos Christus gevoel het. Baie ander kinders van God het al gevoel om hierdie woorde in weemoed en angs te herhaal. Christus se Godverlatenheid bring egter die Godverlatenheid van Dawid tot ‘n end en dié van elke ander gelowige wat voel om soos Dawid op moedverloor se vlakte te skreeu: “waarom het U my verlaat?” Nooit hoef ‘n kind van God in Godverlatenheid te verval nie, want dit is eens en vir altyd gedra – onverdiend!

Alles op sy skouers

Die Griekse mitologie vertel die verhaal van Atlas wat deur Zeus gestraf word om die aarde op sy skouers te dra. Atlas is ‘n mite, Christus is Evangelie. Christus het die wêreld se sonde op sy skouers geneem en in die proses vergifnis van die sonde bewerk.

Om oor na te dink: Hoeveel liefdeloosheid is daar nie dikwels selfs onder uitverkorenes nie? Dit is ‘n sonde wat nie net bely moet word nie, maar wat ons moet laat staan.


In Adam verlore, in Christus gevind

Lees: Rom. 5:12-21

Teks: ”…so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe” – Rom. 5:18.

Betekenis van versoening

Versoening word dikwels in die Bybel gemeld maar is nie so eenvoudig te verduidelik nie. In die Griekse taal is daar 2 woorde wat met versoening in verband gebring kan word. Die een kan beteken: “uitruil, in guns herstel, of in harmonie bring”. Die ander een kan beteken: “om ‘n soenoffer te bring tot herstel van vrede”. In die teksgedeelte word die versoening van Christus in verband gebring met die tweede moontlikheid wat heenwys na die Ou-Testamentiese offers wat die Israeliete moes bring vir die bedekking van hulle sondes. Die grondliggende gedagte is egter dat die toestand van vyandskap waar God teenoor die mens gestaan het (en die mens teenoor God) vervang is met een waar God die mens in liefde aanvaar en vergewe. Die afgrond van die sonde is oorbrug met Christus.

Het jy geweet: Die versoening tussen ’n man en sy ontroue vrou word ook as beeld gebruik om te wys hoe die mens wat van God vervreemd is deur Christus in ’n geëerde en geliefde posisie herstel word (vergelyk Hosea 2).

In Adam verlore, in Christus gevind

In die teks tree Christus in sy versoeningswerk as die verteenwoordiger van die mens op. Soos wat Adam die verteenwoordiger is van die vleeslike mens deur wie alle mense onder die mag van die sonde en die dood gekom het, so is Christus die verteenwoordiger van die geestelike mens deur Wie die versoening en herstel vir alle mense plaasgevind het (Rom. 5:18-19). Die mens self kon niks doen ten opsigte van sy versoening met God nie. Christus alleen kon versoening tussen God en mens bewerk, en hierdie versoening het God dan ook aanvaar. Die versoening is dus allereers nie ‘n verbond tussen Christus en die mens nie maar ’n verbond wat bekragtig is tussen God en sy Seun wat namens en ten behoewe van die mens optree. Die vrugte van die verbond, naamlik versoening, word deur Christus aan ons uitgedeel. Dit is ten diepste die betekenis van “genade”.

Om oor te bid: Bely vandag jou sonde by die naam en dink na oor die diepte van die genade van sondevergifnis.


Uit die put van skuldgevoel gehaal

Lees: Joh. 21:15-19

Teks: “En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei” – Joh. 21:17.

Aanhaling: Martin Luther het gesê – “So dikwels soos jy die sonde voel, so dikwels kan jy ook vergifnis van sonde voel. Vergifnis is nie ‘n wolk wat verbytrek nie; dit is ‘n ewige hemel oor ons.

Die swaar las

Dwarsdeur sy bediening op aarde het Jesus by herhaling gewaarsku teen die vormgodsdiens van die Fariseërs en hulle dooie godsdienstige reëls. Hy het die woordjie “liefde” met woord en daad kom herformuleer. In hierdie gesprek wil Jesus vir oulaas dit by sy dissipels tuisbring dat hulle liefde moet lewe. Petrus speel in hierdie geskiedenis ’n belangrike rol. Dit is duidelik dat hy nie gekies het om die rol te speel nie. Veral nie na hy soveel maal tevore sonder skroom die hoofrol wou oorneem nie. Byvoorbeeld die dag toe hy so vrymoedig en vuriglik verklaar het dat hy nooit die Here sou verlaat nie, al sou al die ander dit doen. Daarna het hy een aand in ’n krisisoomblik vir Jesus drie maal verloën. Hoe swaar moes sy skuldgevoelens nie gewees het nie?

Die geskenk van vergifnis

In Joh. 21:17 gee Jesus egter aan Petrus ‘n opdrag. Die opdrag kan niks anders beteken as dat hy in sy roeping herstel word nie. Hy is dus vergewe! Die swaar las van skuldgevoelens word van sy skouers afgegooi. Hy word uit die put van skuldgevoel gelig.

Wat weet die Here van my en jou? Hoeveel maal het jou en my goeie bedoelinge en vroom godsdiens nie al platgeval omdat ons nie van harte liefgehad het nie?

Om mekaar lief te hê omdat ons die Here van harte liefhet – dit is die boodskap wat Jesus by ons wil tuisbring. As Hy vir ons vra of ons Hom waarlik liefhet, wil Hy eintlik weet of ons bereid is om na mekaar te draai en daadwerklik vir mekaar om te gee. Is jy bereid?

Om oor te bid: Vra die Here om jou elke dag uit die put van skuldgevoelens uit te lig.


Vergifnis eis vernuwing  

Lees: Titus 2:11-15

Teks: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn…” – Titus 2:11

Vernuwing noodsaaklik

As ons besef hoe groot ons sonde is, is dit mos asof daar ‘n vrees wil ontstaan dat ons baie moeilik by die oordeel van God gaan verbykom? Die teks gee ons ‘n dubbele versekering: ons sonde is vergewe, maar daarmee saam bewerk God die vernuwing van die hart sodat ons sonder vrees voor God kan staan. Vergewing van sondes en ‘n nuwe lewe gaan hand aan hand. ‘n Heilige lewe kom egter nie vanself nie: ons moet hard werk daaraan om die Heilige Gees nie deur ons optrede te bedroef nie. Ons moet die Here bid dat Hy ons die krag gee om ons lewe so in te rig dat ons ‘n voorbeeld vir ander is, maar bo alles dat ons die Here eer met ons hele lewe.

Vernuwing vra oordeelsvermoë

Paulus se argument is dat “die genade van God … aan alle mense verskyn het” (2:11).  Een implikasie daarvan is dat nie alles in die sekulêre samelewing verkeerd is nie. Die Christene het die verantwoordelikheid om vas te stel watter fasette van die samelewing verkeerd is. Aan daardie dinge mag die Christen nie meedoen nie.  As daar ’n botsing met die samelewing kom, moet dit gaan oor wesenlike dinge, nie oor onbelangrike sake nie. Hierin lê daar belangrike lesse vir vandag. Ons kan vandag baie kla oor die samelewing maar die vraag is wat jy doen om dit beter te maak? Die Skrif sê hier dat ons moet sorg dat jy in en ten spyte van die beperkings wat  die betrokke samelewing op jou lê, jou roeping vervul om die “wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (2:12).

Om oor te bid: Dank die Here vir die voorreg om die reddende genade van Christus te kan smaak.


‘n Nuwe begin          

Lees: Kol. 2:20-3:4

Teks: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” – Kol. 3:2.

Vergifnis eis: lê die ou dinge af

Die Woord roep ons op om ter wille van Christus die ou dinge af te lê, en die grafdoeke los te maak.  Hierdie afsterwe van jouself is ‘n pynlike proses. Veral omdat jyself daarvoor verantwoordelik is.  Hierdie dood is ‘n seer dood.  Dit vra van jou om diep binne jouself te kyk. En dan nie volgens jou eie maatstawwe nie, maar volgens dit wat God van sy kinders verwag.  Hierdie dood vra van jou ‘n verandering, wat ook nie maar net eenmaal gemaak word nie, maar elke oomblik, elke dag van die lewe. Paulus beskryf hierdie dood soos volg: jy gaan graf toe met die ou mens, die ou mens se klere wat haat, nyd, slegte begeertes, gierigheid, jaloesie, leuens, liefdeloosheid genoem word.  Daardie klere trek jy uit deur die Gees wat in jou werk, en jy beklee jouself met meelewendheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, geduld, vergifnis en liefde.  Jy sterf dus iets af, en staan op in ‘n ander gedaante. Met die gevolg?

Aanhaling: Martin Luther het gesê: “As God na ons toe kom met sy oordeel, omarm Hy ons tegelykertyd met sy liefde”.

Vergewe om nuut te wees

Jou lewe word geken deur dankbaarheid en vrede.  Wanneer dit gebeur het die boodskap van Christus in sy volle rykdom in jou begin bly, in jou lewe tuisgemaak, en dan word jy elke dag meer en meer vernuwe na die beeld van Christus. Dan word die wêreld nuut.  Ons lewe, sterf, en lewe weer, maar lewe nou nuut.  En dit is moontlik, omdat Jesus Christus nie in die graf gebly het nie, maar lewe.

Om oor te bid: Dank die Here vir die nuwe lewe en die nuwe begin wat jy in Christus mag deel.


Vergifnis maak nie onverskillig nie     

Lees: Rom. 6:1-14

Teks: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here” – Rom. 6:11.

Dood vir die sonde

In die gemeente in Rome het daar ‘n ernstige dwaalleer kop uitgesteek. Weens die verskriklike losbandigheid van die heidene in die stad, het sommige gelowiges onder die druk geswig en self in verskriklike sondes geval. Hulle het hulself egter getroos dat dit nie eintlik so erg was nie. Die liggaam, het hulle gesê, behoort aan die aarde. Maak nie saak hoe ons leef nie, ons siel sal in die hemel kom en die liggaam wat verganklik is bly ieder geval agter op die aarde. In die eerste vers van hoofstuk 6 spreek Paulus hierdie opvatting aan met die vraag: “Kan ons nou maar aanhou sonde doen, en redeneer dat God se genade in elk geval die sonde vergewe?”

Om oor na te dink: Wat beteken die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens vir jou? Hoe kan jy dit prakties in jou lewe bemerk?

Lewend vir Christus

Die antwoord is: Nee, beslis nie. Die gelowiges het deel aan Christus se verlossing, maar dit mag ons nie onverskillig maak nie. In vers 3 en 4 sê hy: Dit is asof ons saam met Hom begrawe is, en net soos wat Hy uit die dood opgestaan het en lewe, so lewe ons ook. As ons harte vol is van die dankbaarheid teenoor die Here omdat Hy ons verlos het, kan ons nie anders as om dit uit te leef nie. Ons kan nie net met die mond bely dat ons die Here liefhet nie; dit moet uit ons dade vloei. Dit is ‘n noodsaaklike proses van geestelike groei wat die Skrif heiligmaking noem.

Om oor te bid: Bid dat die Here jou sal leer om nie onverskillig te wees met die sonde bloot omdat jy die belofte van vergifnis het nie.


Witter as sneeu                                                                 

Lees: Kol. 2:6-15

Teks: “…die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, (het Hy) uitgedelg en weggeruim… deur dit aan die kruis vas te nael” – Kol. 2:14.

Die vonnis-oplegging is geteken

Ons kan dit nie ontken nie: voor God is ons skuldig. Sonde begin in die hart en mond uit in dade. Die nagmaalsformulier noem dat daar selfs sonde van versuim in ons teenwoordig is: waar ons nagelaat het om die wil van die Here te doen. In alle opsigte word ons deur die skuld verswaar. Om te dink dat jou omstandighede jou so verander het, of swaarkry of selfs sielkundige redes aan te voer waarom jy worstel met die sonde in jou lewe gaan jou niks baat nie. Jy was al so voor jou geboorte en jy sal so wees tot die kluite op jou kis breek. Die bladsye teen jou is vol geskryf.

Wat doen God?

Maar wat doen God met die bladsye van verdoemende getuienis teen jou? Kol. 2:14 sê Hy het die skuldbrief teen ons uitgedelg en weggeruim deur dit aan die kruis vas te nael. Hy spyker die skuldbrief aan die kruis vas! God het ‘n nuwe skoon blaadjie met ons begin.

Vergewe en vergeet

Een van die dinge wat ons as mense moeilik regkry, is om te vergewe en te vergeet. Ons wil weer altyd terugkyk. Ons wil weer altyd die onreg gaan opdiep en gebruik teen myself en my medemens. Ons wil weer altyd die skuldgevoel vertroetel. Maar God sê in sy Woord dat Hy die skarlakensonde wit maak soos wol en die sonde van purper maak soos sneeu. Sondevergifnis behels immers dat ons elke dag die ou blaadjie kan opfrommel en weggooi en nuut begin.

Om oor te bid: Dank die Here dat Hy die skuldbrief van jou sonde aan die kruis vasgenael het sodat jy dit kan regkry om vry van skuldgevoelens te leef.


Bankrot en tog ryk

Lees: Miga 7:1-20

Teks: ”Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” – Miga 7:19.

In die dieptes gewerp

Die volk van die Here was in die tyd van Miga in die dieptes van moedeloosheid gewerp. Boonop word hulle herinner aan hulle sonde teenoor God en die gevolglike straf. Dit laat die volk opnuut besef hoe nutteloos hulle in die oë van God is. Dit is genoeg rede om te kerm: “Wee my, want ek het geword soos ná die insameling van somervrugte, soos die natrossies van die wynoes: geen tros om te eet nie, my siel begeer vroeë vye” (Miga 7:1).

Om te oordink: Die evangelie kan vir geen geld ter wêreld gekoop word nie. Dit is verniet. Ek kan dit net glo en leef.

God is ‘n genadige God

Die profeet bring egter die straal van hoop na die hopelose. God is ‘n genadige God! (vers 19). Dit is die ware logika van ons geloof: dat ons oortuig word van God se genade al kan ons nie op sondeloosheid roem nie. God kan nie ten volle vertrou word en geglo word as ons nie die volle oortuiging deel dat Hy ‘n genadige God is nie.

Nou is daar hoop

Jerusalem het geval (vers 8). Die stad se mense sit in donkerte, armoede en ballingskap. Vir die eerste maal in die boek Miga lees ons van die volk se belydenis van sonde (vers 7) en ‘n gewilligheid om die straf op die sonde te dra. Hoewel hulle nie kan betaal nie, is hulle nou gereed om die genade van God te eien en te erken. Hulle het nou hoop op ‘n toekoms in die belydenis: “U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp”.

Om oor te bid: Dank God vir sy onverdiende genade om jou sonde in die dieptes van die see te werp.


Die verlore seun

Lees: Lukas 15:11-32

Teks: ”En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ’n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe” – Lk. 15:13.

Stilswyende Vader

Die Vader deel stilswyend die erfdeel aan die twee seuns (vers 12). Sonder om voor te skryf, sonder om te dwing, sonder om te verwyt word die jong man die wêreld ingestuur om met sy besittings te handel na willekeur. Tog moes die Vader bedroef wees oor die oorhaastigheid van sy seun. Nietemin is Hy nie ‘n dwingende Vader wat die seun soos ‘n pion rondskuif nie. Boeta is ‘n groot man. Hy moet verantwoordelikheid leer. Boeta moes egter ook ‘n duur les gaan leer!

Die wagtende Vader

In afwagting op die terugkeer van die verdwaalde wesie kyk die Vader dag vir dag in die verte na beweging in die stofpad. Daar kom boeta in die verte aangestrompel! Die normale reaksie van die Vader word verwag, naamlik verwyt. “Ek het jou gesê, maar jy wou nie luister nie” sou ‘n aardse pa se eerste woorde wees.

Om oor te dink: Deur Christus word ons God se familie. As God se familie behoort ons oor mede-broeders en -susters wat afdwaal ewe besorg te wees as oor ons eie kinders wat die spoor byster raak.

Die genadige Vader

Maar die genadige hemelse Vader verwyt nie. Hy hou nie sy vreugde terug om eers ‘n steek te kan inkry nie. Hy word eenvoudig bly. Die sondaar het tuisgekom! Wat ‘n evangelie van hoop is dit nie? ‘n Boodskap van vreugde om te kan bely: nie omdat jy dit of dat is, en dit of dat doen nie, maar ten spyte van dit of dat word jy in die Vader se huis terug verwelkom. Het jy lank genoeg na die varkpeule gestaar? Die Vader wag vir jou. Jou plek is gereed. Kom terug huis toe.

Om oor te bid: Bid die genadige Vader dat Hy jou deur sy Gees elke dag die pad Huis toe sal wys.


Die verlore ouboet

Lees: Lukas 15:11-32

Teks: ”Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ’n ring vir sy hand en skoene vir sy voete” – Lk. 15:22.

Het jy geweet? Jesus vertel in Lkas 15 drie gelykenisse van iets wat verlore gegaan het: die verlore skaap, die verlore penning en die verlore seun. In al drie die gevalle word melding gemaak van die grootse blydskap in die hemel oor die wat verlore was.

Die regte perspektief

As ons die gelykenis van die verlore seun in Lkas 15:11-32 van nader bekyk, sal ons sien dat die gelykenis na regte nie handel oor die verlore jongste seun nie, maar die verlore ouboet! Aan die begin van hoofstuk 15 lees ons dat die Fariseërs en die skrifgeleerdes gemurmureer het oor die sondaars en tollenaars hulle tot Christus wend (Lk. 15:1-2), en met die oog daarop (vers 3) vertel Jesus die volgende drie gelykenisse, waaronder dié van die teksgedeelte.

Klaende ouboet

Die klaende geleerdes word met die murmurende ouboet vergelyk. Hulle wil graag die genade van hulle Vader vir hulself toe-eien maar wil nie graag hoor dat die sondaar daar buite in dieselfde genade deel nie. Hoe maklik kan ons nie ook in dieselfde strik trap nie? Die verkondiging van die genade van vergifnis van sonde kan so maklik soos koel water op ‘n somerdag oor ons voete streel.

Ook vir die sondaar

Ons wil egter nie graag hoor dat God se genade groot genoeg is om die buurman, vennoot wat jou gekul het, of iemand van ‘n ander volk ook te red nie. Wil jy ook soos die ouboet dikmond in die hoek staan omdat God se genade nie net vir jou geld nie? Christus wil jou deur hierdie gelykenis kom leer dat God se genade nie deur mense se vooroordele beperk word nie.

Om oor te bid: Dank die Here dat die evangelie van Christus ook in ander wêrelddele en in ander tale weerklink. Bid die Here dat sy koninkryk ook in die harte van die heidene sal deurbreek.


Te lig bevind?

Lees: Rom. 3:9-31

Teks: ”Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie” – Rom. 3:12.

Op ‘n skaal van een tot tien?

Ons leef in ‘n tyd waarin mense graag bewyse soek in statistieke. Sake word dikwels op allerlei skale gemeet: skoonheid, dienslewering, prestasies. Tydskrifte bevat dikwels populêre toetse wat jy kan invul om te bepaal of jy ‘n goeie kok is, ‘n goeie pa is of genoeg aandag aan jou kinders gee.

As die Fariseërs en Sadduseërs in die tyd van Paulus hulself op ‘n skaal van een tot tien moes meet sou hulle minstens nege uit tien of selfs volpunte gegee het vir hulle gehoorsaamheid aan die Wet van Moses.

God vra tien uit tien

Maar nege uit tien is nie goed genoeg vir God nie. In Romeine 3 beskryf Paulus die toets wat aangelê kan word om jou posisie in die oë van God te kan bepaal en kom tot die gevolgtrekking dat ons almal ver tekort skiet. Daar is nie eens een mens wat honderd persent gehoorsaam is nie. Alle mense is in die mag van die sonde (vs. 10, 12). Op die skaal van een tot tien is ons ‘n ronde nul.

Gedagte: Vergifnis is God se grootste geskenk aan ons. Hierdeur verwyder Hy die kloof tussen God en mens.

Christus is 100%

Ons hoef egter nie moedeloos te wees as ons tot die besef kom van ons onvolmaaktheid voor God nie. Die Woord herinner ons in dié gedeelte dat God self voorsien het aan die gebroke wêreld. Die oplossing lê in die Volmaakte, Jesus Christus. Hy is 100% gehoorsaam. Hy is dus geskik om as offer te dien. Deur in Hom te glo word ons in die oë van God gereken tien uit tien te wees want Hy kyk na ons deur die bloed van sy Seun.

Om oor te bid: Dank God vir sy Seun wat tien uit tien gehoorsaam was sodat jy met jou sondelas nie verlore gaan nie.


Onboetvaardig tot die oordeelsdag

Lees: Mt. 11:20-24

Teks: “Toe het Hy die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, begin verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie…” – Mt. 11:20.

Hardnekkig

Hardnekkigheid in die sonde kan nie aanspraak maak op vergifnis nie. Jesus het op ‘n dag na Górasin, Betsáida en Kapérnaüm met verwyt verwys as onboetvaardige stede. Die hartseer was dat hulle nie stede was wat kon sê: “ons het nie geweet nie”, of “ons het nie gehoor nie”, maar dit was die stede waarin die meeste van Jesus se wonders plaasgevind het (vers 20). ‘n Mens sou dink dat Samaria of een van die ander heidense streke die vernaamste op die lys van onboetvaardige stede sou wees. Nee, die onboetvaardigheid lê in die hart van die bedieningsveld van Jesus.

Het u geweet? Jesus het Kapérnaüm gebruik as die basis van sy bediening in die noordelike landstreek van Palestina (Galilea). Hier het die meeste van Jesus se wonders plaasgevind.

Gereed gemaak vir die oordeelsdag

In Jesus se oordeelsaankondiginge oor hierdie drie onboetvaardige stede lê ‘n waarskuwing opgeteken vir elke onboetvaardige wat in die sonde bly volhard en die vergifnis van die Vader verwerp. Daar kom ‘n dag dat die stede wat in die Skrif as toonbeeld van die sonde en as vername plekke van God se toorn en oordeel  genoem word (Tirus, Sidon en Sodom) meer verdraaglik sal wees as vir dié wat in die sonde volhard. Die oordeelsdag kom. God stel nie uit soos sommige deur die eeue al gedink het nie. Presies wanneer die dag sou kom, weet ons nie. Ons moet ook nie probeer om die dag te bepaal nie. Maar een ding is seker – die dag kom elke dag nader. Genadetyd is nog nie verby nie. Onboetvaardigheid lei tot die ewige dood!

Om oor te bid: Bid die Here dat hy die volharding in die sonde wat so eie aan die sondaar is, sal genees en daaglikse bekering in jou lewe werk.


Skeidsregter nodig

Lees: 1 Sam. 2:12-26

Teks: “As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ’n mens teen die Here sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree?” – 1 Sam. 2:25.

Die straf is seker

1 Samuel 2 en 4 vertel die geskiedenis van ‘n pa wat saam met sy twee seuns gestraf word weens die ongehoorsaamheid aan die waarskuwing van die Vader en die volharding in die sonde. Dit dien as waarskuwing vir elkeen wat dink hulle kan sonde ligtelik opneem.

Hofni en Pínehas was twee onmoontlike seuns. 1 Sam. 2:13-17 vertel hoe hulle die offers aan die Here verag het. Hulle misdaad is ‘n rooftog teen God. Hulle het nie eens die heiligheid van die tempel in ag geneem nie. Selfs nie die teenwoordigheid van God het hulle weerhou om wellustig teenoor die meisies wat diens doen by die tempel te handel nie (1 Sam. 2:22).

Skeidsregter nodig

Wie sou as skeidsregter optree as ‘n mens teen God sondig? Dit is ‘n geldige vraag van die gryse Eli. OngeLkkig het hy nie self die nodige gesag in sy eie huis toegepas nie. As priester in die huis van die Here wat ‘n voorbeeld vir die volk moes wees het hy gefaal. Om dié rede word Eli saam met sy seuns gestraf.

Die volkome Skeidsregter

Ons besef natuurlik terdeë dat ons in dieselfde bootjie as Eli sit. Wie sou vir ons kan intree weens die sonde wat God moet en wil straf? Goddank dat daar Een is wat waardig is om as skeidsregter te kan optree tussen God en mens. Een wat begrip het vir die swakhede van die mens. Die vraag wat Eli vra, kon eers behoorlik beantwoord word jare later toe God in sy Raadsplan besluit het die tyd is volbring. In die Seun van God kan die kerk verstaan hoe ‘n God van liefde lyk.

Om oor te bid: Dank die Here vir die Skeidsregter wat volkome God en volkome mens is.


Verniet, maar nie goedkoop nie

Lees: Efes. 1:3-23

Teks: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade…” – Efes. 1:7.

‘n Sagte Vader?

Pasop vir ‘n familiêre beskouing van die Vaderskap van God – God is so gaaf en vriendelik dat Hy mos in alle gevalle sal vergewe! Hierdie sentiment het geen plek in die suiwer Skrifbeskouing nie. Die enigste grond waarop God sal vergewe is deur die geweldige offer van die kruis. Om verlossing op enige ander grond te betoog, is ydele misbruik van die Naam van God. Die gewilde “God is liefde”-teologie wat dikwels in ons tyd voorkom, wat nie oproep tot bekering nie, maar alleen “Jesus-het-jou-lief” teksverse gebruik om mense in die sonde te sus, is nie God se idee van vergifnis nie.

Het jy geweet? Die kerk worstel van die begin af met dwaalleraars wat enkele waarhede van die Skrif neem en verabsoluteer. Dit veroorsaak dat die waarheid maklik ingeweef word met die leuen wat dit vir die lidmaat moeilik maak om te onderskei tussen suiwer- en onsuiwer teologie. Dit is waarom belydenisskrifte so belangrik is: dit gee ons ‘n opsomming van die suiwer leer volgens die Skrif.

Verlossing deur sy bloed

Vergifnis is gratis, maar nie goedkoop nie. Die Woord maak dit duidelik in die teksvers dat vergifnis uit ‘n rykdom van God se genade put. Dit het sy Seun bitter lyding gekos. Om vergifnis te soek sonder om die waarde van die prys te erken, maak ‘n goedkoop bespotting van die kruis. Moet nooit ‘n beskouing van die Vader aanvaar waarin vergifnis sonder bekering gepreek word nie. Die apostel Paulus beklemtoon dit duidelik in die teksgedeelte wat dit God gekos het om jou te verlos. Erken dit en jy sal ernstig wees oor jou sonde.

Om oor te bid: Maak erns in jou gebed met jou sonde. Onthou die prys wat betaal is.


Struikelblokke tot vergifnis

Lees: Rom. 12:1-8

Teks: “Ek vermaan julle…dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens” – Rom. 12:1.

Oorwinning oor sonde

Die sleutel tot oorwinning oor die sonde is nie om arms gevou te sit en wag om te sien wat jy van God kan kry nie, maar om dit wat God aan jou gee, so te gebruik dat jy elke dag nader aan Hom groei. Die Romeine het gedink dat as hulle die genade van God ontvang (boonop verniet) ‘n mens dan meer en meer sonde moet doen, sodat die genade van God meer kan word (vgl. Rom. 6:1-2). Vir hulle het die genade van God soos ‘n vrugteboom gelyk – pluk die vrugte voor dit afval! Hieroor moet Paulus die gemeente berispe. Hy wys hoedat God die mens vir sy besluite of gebrek aan besluite verantwoordelik sal hou.

Het jy geweet: Die boek Romeine word in 3 dele verdeel, naamlik: kennis van sonde, verlossing en dankbaarheid. Dit is die drie-deling van Romeine wat gevolg is in die opstel van die Heidelbergse Kategismus.

Jouself as offer

In die sterk vermaning van hoofstuk 12, fokus die apostel nie meer op wat ons van God ontvang het, soos die vorige 11 hoofstukke nie, maar eerder op wat ons aan God moet gee. Die bevel is dat die mens moet streef na die ideale geskenk: om jouself aan God oor te gee (vers 1-2). Dit is die sleutel tot blywende vreugde. Geen aardse dinge kan ewige vreugde bring nie. Die sleutel lê dus nie vir die gelowige in hoeveel hy/sy van God kan kry nie, maar hoeveel hy/sy kan gee. Vir God is niks minder genoeg as om jouself te offer nie. Dit is ‘n Godsdiens wat sin maak.

Om oor te bid: Bid die Here dat Hy jou sal gebruik in sy diens ten spyte van jou gebreke.


Die prys van dissipelskap

Lees: 1 Kor. 6:12-20

Teks: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” -1 Kor. 6:20.

Goedkoop genade

Die Griekse filosowe in die tyd van Paulus het geleer dat, omdat die liggaam vergaan, die mens maar met die liggaam kan doen wat hy/sy wou. Onsedelikheid tas die liggaam aan en nie die siel nie, daarom maak dit nie saak hoe mens met die liggaam leef nie (vgl. 1 Thes. 5:23). In navolging van die dwaalleraars van die tyd kan ‘n mens vergifnis so verskraal dat dit niks aan jou lewe verander nie. Ons doen dit byvoorbeeld wanneer die tug in die gemeente afgewater word, wanneer ons stilswyend goedkeuring verleen aan paartjies wat saamwoon sonder dat hulle getroud is, wanneer ons kinders doop wie se ouers kerklos is, wanneer die nagmaal nie meer met heilige erns gevier word nie. Ons doen dit deur verlossing sonder verootmoediging te preek.

Aanhaling: Die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, het ‘n besondere werk geskryf oor die navolging van Christus. Op ‘n plek sê hy: “Baie Christene is soos bloedhonde. Hulle ruik en snuffel en soek…na ‘n kerk en ‘n godsdiens waar die goedkoopste genade te kry is – wat nie die duur prys van dissipelskap van hulle vra nie…”.

Na liggaam en gees

Om aan die kerk te behoort is ‘n voorreg en nie ‘n reg nie. Dié voorreg vra van ons opregte dissipelskap. Dissipelskap beteken om Christus na te volg. As navolger van Christus moet ek vra: wat ek moet ek nog verander om te lyk soos Christus en te leef soos Christus? Dit is nie maklik nie, maar beslis noodsaaklik. Om dié rede is dissipelskap ‘n opofferende verhouding – een waarin Hy meer word en ek minder.

Die Woord herinner in dié gedeelte aan die duur prys wat betaal is. Dit eis dat ek God verheerlik in liggaam en in gees.

Om oor te bid: Die Here vra liggaam en gees. Bid Hom vir die genade van volharding in die stryd.


Jesus – die Weg.

Lees: Joh. 14:1-14

Teks: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” – Joh. 14:6.

Verdwaal?

Ek het al ‘n plakker op iemand se motor in die verkeer gesien, wat sê: “Don’t follow me, I’m lost!”. Die ironie is dat dit op geestelike gebied dikwels waar is van ons samelewing. Dié plakker sê egter meer van ons verdwaalde samelewing as wat hulle wil erken. Ons moet dié plakker oor die deurkosyn van ons staatsgeboue en die parlementsgeboue in Kaapstad en die ingangsportaal van baie van ons howe en baie van die skole gaan plak. Miskien moet ons dit plak op die boekrakke van baie van die winkels wat humanistiese- en evolusieboeke verkoop, en ook sommer by sommige teologiese fakulteite wat in die naam van wetenskap die rug keer op Christus en sy leer. Dit sal baie mense groot hartseer en ontnugtering spaar as hulle vooraf eerlik gewaarsku was dat die plek waar jy jou nou bevind, met Christus en sy kruis niks te doen wil hê nie – hulle is verdwaal!

Hier is die pad!

In ‘n wêreld en ‘n tyd waarin baie mense vra na die regte pad en die pad na lewe en geLk, bring Jesus ‘n antwoord wat tydloos is, naamlik EK is die weg, EK is die waarheid en EK is die lewe. Let daarop dat Jesus nie hier praat oor ‘n weg nie, maar telkemale kry ons ‘n lidwoord “die” voor die naamwoord “weg, waarheid en lewe”. Jesus wys nie net die weg nie, Hy is DIE Weg. Hy praat nie net die waarheid nie, Hy is DIE Waarheid en Hy filosofeer nie net oor die lewe en die betekenis van die lewe nie, Hy is DIE Lewe.

Kennis van vergifnis van sonde bring tot belydenis. God wys nie net liefde nie: Hy is liefde. So is Christus die enigste weg, waarheid en lewe.

Om oor te bid: Christus is die enigste Weg, die volle Waarheid en die ewige Lewe. Bring lof aan God vir sy volmaakte Seun.


Getroos deur vergifnis

Lees: Ps. 123

Teks: “…ons oë (is) op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is.” – Ps. 123:2b.

Om te oordink: Die Heiland dra die littekens van jou vergifnis.

Troos vir nou

Die leer oor die vergifnis van sonde beloof nie alleen ‘n salige ewigheid nie, maar ook hoop in die tydelike aardse stryd en worsteling. Die psalmdigter getuig van die troos wat God se hoop gee te midde van die wêreld se spot en vervolging.

Troos vir môre

Die uitkoms kom nie dadelik nie. Nogtans hoef die psalmdigter hom nie te steur aan die spotstem van die goddelose nie; hy wag geduldig op die genade van die Here. Soos die dienskneg en die diensmaagd op hulle meester wag vir versorging, ook in afwagting op genade, verwag hy die vergelding van die Here en bid om uitkoms. Let daarop hoe die psalmdigter die hele gemeente in sy gebed aan die Here opdra: die Here moet “ons” genadig wees, smeek hy. Hoe langer hy moes wag, hoe meer het hy God geroep. Hy besef dat hooghartige en goddelose mense nie sou help nie, aangesien hulle God verag.

Troos vir die ewigheid

Die woordjie “totdat” in vers 2 wil die geduld van die psalmdigter beklemtoon. Hoe lank voor die uiteindelike verlossing aan die gelowige gebied word? Dit is ‘n vraag wat elke gelowige in aansluiting by die martelare ter wille van die evangelie deur die geskiedenis terg. Die hoop op vergifnis van sonde bring egter die troos dat die “totdat” van hierdie psalm in ‘n “eendag” sal oorgaan wanneer ons die saligheid met Christus deel. Selfs al sou die aardse stryd gekenmerk word aan veragting, vervolging en dalk selfs die dood, bring die hoop op die “totdat” vir ons die troos in nood.

Om oor te bid: Saam met die strydende kerk deur die eeue kan jy bid: Maranata! Kom Here Jesus!


Versoen om te kan bedien

Lees: 2 Kor. 5:11-21

Teks: “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan” – 2 Kor. 5:20.

Om te oordink: Die wat vergewe is, móét kan vergewe.

Versoening wek versoening

Dit is baie jammer dat die boodskap van versoening soms ‘n stopteken aanbring in die hart van die versoende. Dit behoort nie eens gedebatteer te word of jy ‘n opdrag het om die versoeningsboodskap uit te dra nie – dit is ‘n opdrag! Die teks meld dat ons optree as gesante om Christus wil. Ons is verteenwoordigers van Christus se koninkryk wat die opdrag het om die vergifnis van Christus ook na die wêreld te kaats. Die bekende Nederlandse predikant, Overduin, het eendag ‘n preek aan sy gemeente gelewer waarin hy hulle verwyt het dat hulle wreed is. In ontnugtering wou die gemeente weet waarom hulle leraar hulle so noem. Sy antwoord was: “Omdat julle die boodskap van versoening nie aan ‘n verloregaande wêreld verkondig nie”.

Versoening wek ywer

Wat sou die rede wees dat die apostels bereid was om verdrukking, honger en spot te verdra ten koste van hulle eie gerief en ekonomiese vryheid? Die antwoord lê opgesluit in vers 14, naamlik liefde. In die eerste plek is dit God se liefde teenoor die gevalle sondaar. Jy is die gevalle sondaar wat deur die genade van God opgetel is uit die stofstrate van moedverloor se vlakte. Om dié rede behoort jy te wil praat oor sy genade. In die tweede plek is dit die sondaar se liefde teenoor God wat die ywer brandend hou om die wêreld met die versoening van Christus te bedien. Wil jy die versoening van Christus omhels? Dan kan jy nie stilbly nie.

Om oor te bid: Besef jy dat die oes groot is en die arbeiders min? Bid die Here van die oes dat hy jou vrymoedigheid sal gee om die versoening van Christus aan jou geskenk óók te bedien.


Versoende twisgieriges?

Lees: Mt. 18:21-35

Teks: “…moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie?” – Mt. 18:33.

Om te oordink: Om foute te maak, is menslik. Om ander se foute te vergewe, is goddelik!

Vergewe en vergeet?

Kan jy nog onthou toe jy ‘n kind was hoe maklik julle oor die kleinste dingetjie kon baklei? Partymaal het dit sommer oor die mees onbenullige sake gegaan: wie sit waar in die motor, ‘n suster wat een van jou kledingstukke aangehad het of iets dergeliks. Onthou jy hoe maklik dit was om weer goed te word? Een oomblik kan julle baklei en die volgende oomblik speel julle weer saam asof niks gebeur het nie. Kinders kan “vergewe en vergeet”.

Dankie

Dit is maklik om die genade van die Here te wil ontvang maar moeiliker om dit uit te deel. ‘n Mens dink aan die gelykenis van die man wat die koning baie skuld. Hy is natuurlik baie bly toe hy hoor dat sy skuld afgeskryf word. Hy hoef nie te betaal nie! Hy sou seker in dankbaarheid dieselfde aan ander kon doen?

Maar nee dankie

In werklikheid sê hy met die mond dankie vir die genade van die koning maar met sy lewe “nee dankie”! Toe hy ‘n mede-dienskneg raakloop wat hom baie minder skuld, wurg hy hom om die geld uit hom te kry. Om dié rede besluit die koning om die genade aan dié man bewys, terug te trek. Hoe lyk die vergifnis wat jy aan ander bewys? Is dit ook ‘n tydelike dankie teenoor God maar met jou lewe skree jy teen die vergifnis wat God aan jou bewys het? Dan maak jy die genade aan jou bewys tot spot. Pasop dat jy nie genadeloos word nie. Moet jy nie jou mededienskneg genadig wees soos Hy jou genadig is nie?

Om oor te bid: Bid die Here dat hy jou sal leer om te vergewe en vergeet soos ‘n kind.


Berowe ter wille van getuienis

Lees: 1 Kor. 6:1-11

Teks: “Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?” – 1 Kor. 6:7b.

Agter vier mure

“Wie van ons sal as ons rusie in die huis het, iemand van die straat af roep om die rusie op te los? Ek glo niemand nie, want dit sal vir ons te groot skande wees, want wat in ons huise gebeur is privaat en word nie op straat verkondig nie”. So het Chrysostomos, een van die kerkvaders van die vierde eeu gewaarsku oor gelowiges wat mekaar na die wêreldse hof neem.

Die man op straat moet besluit?

Dit het in Korinte gebeur dat mense wat nie met mekaar oor die weg kon kom nie, mekaar na die wêreldse regbank geneem het. Chrysostomos sê dis nie net ongewens nie, dis ‘n skande vir die kerk. Beteken dit dan dat as ons nie geLkkig is met die reg in die kerk nie, dat ons maar eerder skade moet ly? Chrysostomos sê ons moet dit maar aanvaar en verder kyk as die aardse, na die hemelse waar reg en geregtigheid sal seëvier.

Vergifnis ter wille van die beeld van die kerk

Paulus leer die Korintiërs dat hulle bereid moet wees om te dien, en nie altyd gereed moet wees om mekaar te verkla by die wêreldse regters nie. Want wat dink die wêreld van die Christene as hulle liefde verkondig, maar nie eers huishoudelike sake in liefde kan oplos nie? Nee, kom ons leer om te vergewe, al beteken dit verlies van aardse goed, want wanneer ons liefdeloos teenoor mekaar optree, maak ons ons getuienis na buite leweloos. Kom ons leer eerder om meer geduldig en met meer liefde teenoor mekaar op te tree. Kom ons leer om te vergewe soos Hy vergeef het.

Om oor te bid: Dank die Here dat jy die beeld van die kerk dra deur jou belydenis en lewe. Bid Hom om die swak beeld wat soms deur die kerk gedra word, te vergewe.


Die Lam wat skuld wegneem

Lees: Joh. 1:29-34

Teks: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” – Joh. 1:29.

Doodsengel gaan verby

Die Woord laat die plaasvervangende funksie van die offerlam op die voorgrond staan. Hy sterf in ons plek soos die paaslam die plaasvervanger was sodat die eersgeborenes van die Israeliete in Egipteland deur die doodsengel verbygegaan word (vgl. Ex. 12:13).

Het u geweet: God leer: sonder die offer van bloed is vergifnis nie moontlik nie. In die ou verbond was dit deur die bloed van ‘n offerdier bewerkstellig. In die nuwe verbond deur die bloed van die Lam eenmaal gedra.

Die Lam in my plek

Dit is duidelik dat hier een boodskap oorgedra word, nl. dat die sterwe van die Lam genoegsame offer sal wees om die sonde van die wêreld weg te ruim. Die bloed van die Lam reinig van die smet van die sonde en verlos uit die mag van die dood. Christus word ‘n vervloekte in ons plek. Hy doen wat die mens nie in staat is om te doen nie. En dit is om die wet totaal te gehoorsaam. Hy doen dit deur ‘n vervloekte te word. Deut.21:23 leer die volgende: ” een wat opgehang is, is deur God vervloek”. Net die grootste misdadigers is aan pale opgehang totdat hulle dood is. ‘n Vervloekte vonnis is uitgedien deur Jesus Christus. Hy het dit nie tot redding van Homself deurgemaak nie. Al ons woorde en dade is vervuil met sonde en daarom val ons onder die vloek van sonde. Dit is ‘n vloek wat uitloop op die dood. Ons Vader wat in die hemel woon, het ons laat loskoop deur Jesus wat aan die kruis gaan hang het as vervloekte. Hy het die pyn en lyding op Hom geneem en maak ons vry.

Om oor te bid: Dank die Here dat jy nie hoef te betaal nie, want wie sou die toorn van God kon dra behalwe Een?


Hou jou offer vir jouself óf vergewe

Lees: Mt. 5:21-26

Teks: “…laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe” – Mt. 5:24.

By die altaar

Die teks praat van ‘n offer wat by die altaar gelaat word. Wanneer jy iets vir die Here gaan offer, het jy gedink aan hoe goed die Here vir jou is. Jy gaan sê vir Hom dankie met die offer. Maar nou leer Jesus: Jy kan nie offer vir die Here as jy en jou broer kwaad is vir mekaar nie. Jou broer is een van jou gemeentelede of ‘n ander Christen. Selfs as jy op so laat stadium onthou hy is kwaad vir jou, moet jy eers gaan vrede maak.

Twis is ‘n klip in die pad

Jou Godsdiens en hoe jy en jou medegelowige teenoor mekaar optree kan nie van mekaar losgemaak word nie. Wanneer jy kwaad is vir jou broer, of hy vir jou, is dit ‘n groot klip in jou pad na die Here toe. Jy kan nie opreg bid, sing in die kerk, doop, nagmaal gebruik, jou kerklike bydrae gee, jou verbondsklasse bywoon … ja, enigiets wat met jou godsdiens te doen het, en met ‘n wrok in jou hart rondloop nie.

So belangrik is dit, sê Jesus, dat voor jy die Here met ‘n offer dien jy éérs moet gaan vrede maak met jou broer. Daarmee leer Hy dat ons nie moet uitstel nie. Ons moet vandag nog gaan.

Die liefdeseis reeds volbring

As ons lewe deur die Gees van Christus wat self so ’n geweldige liefdeseis volbring het vir ons wat van nature sy vyande was, sal ons ook in staat wees om hierdie liefdeseis teenoor ons naaste, ongeag wie hulle is, en selfs teenoor ons vyande te volbring. Laat die liefdesgesindheid in die erediens en by jou mede-lidmate begin en uitkring na al die samelewingsverbande.

Om oor te bid: Bid die Here vir ‘n gesindheid van vergifnis – selfs teenoor jou vyande.


Hand in eie boesem

Lees: Mt. 6:5-15

Teks: “…en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” – Mt. 6:12.

Het u geweet? Vergifnis is die sentrale tema in die perikoop van verse 9-15. Die woord word ses maal in vier verse genoem (vgl. verse 12-15).

Elke dag

Waarom moet ons bid om vergifnis as ons sonde reeds vergewe is? Dit is waar dat die grond van ons vergifnis gebaseer is op die versoening van Christus wat eenmaal aan die kruis bewerk is. Maar ons sondig tog elke dag en om dié rede vra ons elke dag om vergifnis, soos die Here ons leer in dié gebed. Daaglikse skuldbelydenis is egter nie alleen ‘n blootlê van die oortredinge voor God nie maar ook ‘n pleidooi om genade.

Om oor te dink: Arthur Pink het ‘n bekende werk geskryf oor die bergprediking. Oor Mt. 6:12 merk hy op: Omdat God heilig is, besoedel die sonde sy heiligheid. Die enigste wyse waarop hierdie misdaad reggestel kan word, is deur Goddelike vergifnis.

Ook teenoor die oortreders

Om vergifnis van God af te bid ten opsigte van my eie sonde is een kant van die saak. Die tweede saak wat in die teks aangespreek word, is die vergifnis teenoor ons oortreders. Ons word nie gered deur geloof, asof geloof reddende krag het nie. Ons word gered deur Christus wat ons die geloof skenk om sy weldade toe te eien. Dié feit bring vergifnis teenoor ander in perspektief. Die vergifnis teenoor ander kan nie beteken dat ons God se vergifnis afbetaal nie en sodoende ‘n bydrae lewer tot ons eie heiligheid nie. Nee, omdat ons die vergifnis ontvang het, wil en moet ons kan vergewe. Dit is die toets of die geloof opreg is. Sal dit vir jou moontlik wees om selfs dié wat teenoor jou oortree het, te vergewe?

Om oor te bid: Bid die Here dat Hy jou die krag van vergifnis sal skenk dat jy dit kan regkry om jou misdadigers te vergewe.


Die balk in jou oog

Lees: Mt. 7:1-6                                                                                

Teks: “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” – Mt. 7:3.

Eie ek

Vandag lyk dit of die meeste mense net belangstel om hulle eie belange te bevoordeel. Wanneer sondevergifnis om jou eie belange draai, sodat vergifnis vir jou net belangrik is om jouself te troos en bevoordeel, is jy op ‘n gevaarroete. Dan is die medemens vir jou niks anders as ‘n middel tot ‘n doel nie en die doel is jou eie ek. Jy kan vriendelik wees en bedagsaam en al die dinge wat nodig is om ‘n verhouding te laat slaag. As jy niks voel vir die mens nie, mis jy die doel van vergifnis.

Elders, nie by my nie

Jy reken die fout lê elders? Dis die ander ou wat die splinter het, nê? Jy het nie ‘n vergrootglas nodig om die splinters in ander se oë raak te sien nie, maar wat van jou? Jesus leer: wat jy reken ‘n stoffie in jou oog is, is in werklikheid ‘n balk! Jesus sê nie daarmee dat alle vermaning vermy moet word nie, maar vermaan ons om met onderskeiding te werk te gaan en nie altyd negatief en afbrekend te wees nie. As die onderhouding van God se gebooie tot selfregverdiging lei, is dit sonde.

Onder die kruishout

Sal jy dit probeer regkry om met dié teks op jou knieë te gaan en te dink aan jou manier van dink oor ander mense se sondes? En jou manier van praat oor hulle sondes? Let wel: jy móét daaroor praat – met hulle persoonlik. Kry net eers jou eie hart in orde. Want die balk waarvan Jesus praat, is in jou oog! Gaan staan met jou hart ’n slag onder die kruishout.

Om oor te bid: Bely jou sonde van selfregverdiging voor die Here. Bid dat Hy die balk in jou oog sal uitwys en deur die bloed van sy Seun sal bedek.


Versoening nodig

Lees: Gal. 3:1-14                                                                          

Teks: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word…” – Gal. 3:13

Sy versoening is voldoende

As die Joodse gebruike naas die soenverdienste van Christus noodsaaklik was, beteken dit dat Sy soenverdienste nie voldoende was om die mens te verlos nie. Die Galasiërs het die versoening van Christus hul eie gemaak en nou? Wat het nou van die Enigste Weg geword? Wie die betekenis van die kruisiging eers eenmaal reg begryp het, weet dat die wet nie die weg kan wees waarlangs die gelowige mens versoen word met God nie. Die ironie is dat hulle die nuwe lewe in Christus prysgee ter wille van ‘n bestaan wat afhang van hulleself en uiteindelik uitsigloos is. Al die swaarkry in die proses van bekering word skielik prysgegee.

Genadeverkondiging

Op hierdie punt kom nou die genadeverkondiging (verse 12-14). Christus word ‘n vervloekte in ons plek. Hy doen wat die mens nie in staat is om te doen nie. Hy betaal vir die sonde.

Ons maak dikwels soos die gemeente in Galasië as ons ‘n eiewillige godsdiens aanhang. As ons self die reëls tot verlossing wil maak en weier om te aanvaar dat God uit genade alleen red. Nee, broeder en suster, die Here bepaal self in sy Woord hoe ons Hom moet dien. Al ons woorde en dade is vervuil met sonde en daarom val ons ook onder die vloek van sonde. ‘n Vloek wat uitloop op die dood. Wat die Here nou vir u en my wil sê met Gal. 3:13 en 14 is dat Hy die vloek van ons af wegneem. Ons Vader wat in die hemel woon, het ons laat loskoop deur Jesus wat aan die kruis gaan hang het as vervloekte. Hy het die pyn en lyding op Hom geneem en maak ons vry.

Om oor te bid: Christus se versoening is die enigste weg tot saligheid. Dank God daarvoor.


Dooie hond, jy is vergewe

Lees: 2 Sam. 9:1-13                                                                       

Teks: “Wat is u dienaar, dat u na ’n dooie hond soos ek is, omgesien het? – 2 Sam. 9:8.

Hy verdien die dood

Dawid se koningskap begin met die dood van Saul. Wat ‘n uitdaging om die leisels oor te neem en weer op te bou wat afgebreek is? Mefibóset was Saul se kleinseun. En toe die klop aan die deur kom, moes hy die ergste verwag: die wraak van die nuwe koning oor die huis van Saul! Dawid laat hom egter kom om die genade wat God aan hom bewys het, terwyl hy voor Saul vir sy lewe moes vlug, ter wille van Jonatan, sy vriend terug te betaal.

Om oor te dink: “Dooie hond” wys op die totale hulpeloosheid voor die koning. Is ons nie in dieselfde posisie as ons voor die Koning verskyn nie?

Nogtans genade

Die natuurlike reaksie is om te vergeld as iemand te na gekom is. Maar dit hoort nie by die kind van die Here nie! Die geskiedenis van Dawid se genadebewys aan Mefibóset wys op die grootmoedigheid van die besondere koning, Dawid, en hoe hy dit kon regkry om te vergewe, ten spyte van die verlede.

Dit wil egter ook leer hoe die genade van God jou lewe verander. Terwyl jy die dood verdien, skenk Hy vergifnis; bring Hy jou oor van die huis sonder hoop na sy tafel, en bewerk selfs dat jy een van die koning se kinders genoem word.

Mefibóset is ‘n skuldige wat wegkruip omdat hy weet dat hy die dood verdien. In God se oë verdien jy en ek niks minder nie – tog kom Hy met die boodskap van hoop na elkeen van ons. Deur Christus kan jy ‘n kind van God wees en hoef jy nie weg te kruip vir die wraak van die Koning nie. Van jou kan gesê word: Dooie hond, jy is vergewe!

Om oor te bid: Jy is nie hulpeloos voor God nie. Christus bedek jou sonde deur sy bloed.