Huigelaars se loon

Huigelaars is nie in die boek van die lewe nie

prof. Gerrit Smit

Lees: Joh. 17:1-26

Die huigelaars is nie ware kinders van God nie, al roem hulle hoe oor hulle eie vroomheid. Jesus het by verskeie geleenthede die Joodse godsdienstige leiers daarop gewys dat hulle in hul vroomheid huigelaars is.

Calvyn: Aangesien veinsers hulle net soos ware dienaars van God op hulle godsvrug beroem, verklaar Christus dat hulle uiteindelik afgegooi sal word van die plek wat hulle verkeerd beset (Inst. III.24.8, 39-41).

Nie een gaan verlore nie

Lees: Joh. 17:3

Die apostels word deur Christus gekies om tydens sy aardse bediening by Hom te leer en na sy hemelvaart die kerk te gaan bou deur hul getuienis. Christus vra die Vader om hulle te bewaar omdat hulle aan Christus behoort (vers 9). Hulle het deel gehad aan die kudde van die Here en het die opdrag gekry om die kudde te versorg na die Here se hemelvaart.

Behalwe die seun van die verderf

Lees: Joh. 17:12

Hoe is dit dan moontlik dat al twaalf dissipels gekies kan word, maar dat een van hulle die seun van die verderf genoem word? Hy was nie onder Christus se skape gereken omdat hy dit regtig was nie, maar omdat hy die plek van een van die ander skape tydelik ingeneem het. Sy verkiesing slaan terug op ‘n ampsbediening en nie die goddelike uitverkiesing nie. Judas is alleen met die oog op die apostelamp gekies. Maar wanneer Christus oor die uitverkiesing tot saligheid praat, erken Hy dat daar een is wat nie uitverkies is nie. Ons verstand is te klein om hierdie groot raaisel te verstaan, maar God leer ons dat diegene wat aan Christus se kudde behoort, se name alleen in die boek van die lewe geskrywe staan. Huigelaars se name verskyn nie daar nie.

Om oor na te dink: Hoe verklaar ‘n mens die feit dat sekere mense oënskynlik vrugbaar gebruik kan word in God se Plan en uiteindelik tog nie uitverkies is nie? Dink bv. aan Saul en Judas?