Die troos van uitverkiesing

Die uitverkiesing is vol vertroosting

prof. Gerrit Smit

Lees: Ps. 119:129-136

Daar is mense wat beweer die uitverkiesing het plaasgevind nadat God in die toekoms gesien het wie tot bekering sou kom. Hulle meen dus: die mens is medewerker in die uitverkiesing. Die probleem hiermee is dat die uitverkiesing dan eers krag het as óns dit aanvaar. Ons moet die uitverkiesing reg verstaan. Dit doen ons alleen vanuit God se Woord en nie vanuit die menslike rede nie.

Calvyn: Sommige mense maak van die mens ‘n medewerker van God…Die Satan slaan gelowiges nie met enige versoeking wat ernstiger of gevaarliker is as wat hy hulle met twyfel oor hulle uitverkiesing verontrus…nie (Inst. III, 24.3, 2-3 en III.24.4, 37-39).

Die uitverkiesing bring troos

Lees: Ps. 119:129-131

Dit gaan in hierdie gedeelte oor die wonder van die verligting van God se Woord. Let hoeveel troos vind die psalmdigter in God se Woord. Die verstaan van God se Woord word metafories vergelyk met ‘n lig wat vir die mens opgaan. Selfs ongeleerde mense kan die eenvoud van God se verlossingsplan verstaan (vers 130). Die psalmdigter is verder stukkend oor die mense wat nie God se verlossingsplan wil verstaan nie en hulle daarteen verhard.

Ons moet ons deur die Woord laat lei

Baie mense verag God se Woord en maak dit die voorwerp van hul eie subjektivisme. Die psalmdigter buig egter in nederigheid daarvoor omrede dit geheime bevat wat die mens se verstand ver te bowe gaan. Die wat God se Raad wil verstaan en dit sonder sy Woord doen, stel hulself bloot aan die sondige menslike rede. Daarenteen pluk hulle wat God se geheime uit sy Woord verstaan die vrug van vertroosting.

Om oor na te dink: Maak ‘n lysie van jou normale dagbeplanning. Hoeveel tyd spandeer jy aan elke aktiwiteit? Hoeveel persent van die dag word gewy aan die oordenking van God se Woord? Wat leer jy hieruit?