Alles uit God en na God

God is ons hoogste goed

prof. Gerrit Smit

Lees: Ps. 16:1-11

Calvyn: Omdat die profesie dat die dood deur sy oorwinning verslind sal word, egter eers dan vervul sal word, moet dit ons te binne skiet dat die doel van die weeropstanding die ewige geluksaligheid is. Maar as alles oor die uitnemendheid van die ewige geluksaligheid gesê is waartoe die tonge van alle mense in staat is, sou nogtans skaars die geringste deeltjie daarvan aangestip wees (Inst. III.25.10, 1-5).

Wat in die hart nie opgekom het nie

Lees: Ps. 16:2

Daar is vir die gelowige geen goed, behalwe God nie (vers 2). Hoe waar dit ook al is as ons hoor dat die koninkryk van God groter en heerliker is as wat ‘n mens ooit sou kon droom (1 Kor. 2:9), bly die dinge vir ons verborge en ver bo ons verstand. Dit is as ’t ware raaisels totdat die dag kom waarop God sy heerlikheid aan die mense openbaar. Die psalmdigter kan die heerlikheid self nie in woorde omskryf nie, daarom stamel hy alleen die woorde: “…my erfenis is vir my mooi” (Ps. 16:6).

Ewige geluksaligheid

As God, soos ‘n onuitputlike fontein, alles wat goed is in Hom het, moet ons strewe na geluk en ‘n lang lewe niks anders wees as ‘n strewe om naby God te wees nie. Op verskeie plekke in die Bybel word it vir ons geleer (vgl. Gén. 15:1; Ps. 16:5; 17:15). Ons wil graag baie meer weet oor God en oor die hiernamaals as wat ons weet. Dit gee dikwels egter aanleiding tot twisvrae, beuselagtigheid en twyfel. Geen mens trek hieruit voordeel nie. Laat ons maar tevrede wees om saam met die kerk deur die eeue heen te bely: “Ek glo aan die vergewing van sondes; die wederopstanding van die vlees en ‘n ewige lewe” (12 artikels).

Om oor na te dink: Lees die laaste deel van die 12 artikels waarin ons die werk van die Heilige Gees bely. Dink daaroor dat die heilige, algemene, Christelike kerk gelowiges insluit van alle eeue en alle lande. Dit beteken dat ons die groot geloofshelde: Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Paulus, Petrus en ander daar sal ontmoet. Wat ‘n dag om na uit te sien!

Verskillende grade van heerlikheid?

Lees: Luk. 19:11-28

Calvyn: “…soos God op hierdie wêreld sy gawes op verskeie wyses onder die heiliges uitdeel en hulle ongelyk bestraal, so sal die maat van heerlikheid in die hemel ook nie gelyk wees wanneer God sy gawes bekroon nie” (Inst. III.25.10, 45).

Hoe verskriklik om te moet hoor: Jy is ‘n slegte dienskneg (Luk. 19:22)! Maar wat die Skrif leer, moet ons sonder teëspraak aanvaar. God gee nie aan almal ewe veel gawes nie en as ons in die hemel is, sal elkeen nie ewe veel heerlikheid hê nie.

Die wat het

Die Skrif gaan van die veronderstelling uit dat God namate hy die gelowiges op aarde met geestelike gawes seën en almal nie dieselfde gawes ontvang nie (vgl. 1 Kor. 12:8-11), hulle ook nie in die hiernamaals met dieselfde gawes versier sal wees nie (Lees weer Luk.19:16-19). In die gelykenis ontvang elkeen van die diensknegte gelyke dele (vers 16,18,20), maar toe die dag van verantwoording kom, was die diensknegte se gawes nie gelyk nie.

Die wat nie het nie

Lees: Luk. 19:20-24

Aan die ander kant was daar die dienskneg wat nie verantwoordelik was met sy gawe nie. In die gelykenis verduidelik ons Here dat hy gevolglik ook die een verloor wat hy ontvang het (vers 24). Net soos Christus se liggaam hier op aarde uit verskeie lede bestaan en elke lid ‘n verskeidenheid van gawes ontvang en God deur sy Gees werk om die gawes trapsgewys te vergroot, so sal dit in die hemel vervolmaak word, wanneer dié wat het en wat in die gawe gegroei het die volheid van die heerlikheid sal smaak.

Om oor na te dink: Christus gee deur sy Gees aan die kerk verskeie gawes. Watter gawes het die Here aan my gegee? Wat kan ek doen om hierdie gawes meer in sy diens te stel, sodat sy Naam deur my werke verheerlik kan word?