Nuwe tendense en moontlikhede in die studie van die grondteks van die Nuwe Testament

Tydens ‘n Simposium aan die einde van Januarie ter viering van die Reformasie 500 in 2017, het ek ‘n referaat gelewer oor nuwe tendense en moontlikhede in die studie van die grondteks van die Nuwe Testament. In die referaat word oorsigtelik gekyk na verskillende tekstradisies van die Nuwe-Testamentiese Tekskritiek.

Verder word kennis geneem van die feit dat daar tans in die navorsing van die grondteks van die Nuwe Testament waardevolle getuienis vanuit die Oxyrhynchus-papiri na vore kom wat ruimte bied vir verdere besinning oor die betroubaarheid van die Bisantynse tekstradisie. Ten spyte van jarelange verskille tussen geleerdes oor die betroubaarheid van die metodiek van Westcott en Hort, wat neerslag vind in die kritiese teks van Nestlé-Aland/UBS, domineer die Nestlé-Aland/UBS teks steeds in Bybelvertalings die afgelope eeu.

Die invloed van die Skrifkritiek op die Nuwe-Testamentiese wetenskap het egter nie die Tekskritiek gespaar nie, en leidende figure soos Parker en Ehrman het tans ‘n sterk invloed in ‘n “nuwe perspektief” op die teks van die Nuwe Testament, wat konserwatiewe Bybellesers en teoloë tereg laat soek na ‘n alternatiewe en dog betroubare grondteks vir die Nuwe Testament. Die saak word hier uitgemaak dat die Bisantynse tekstradisie wel betroubare alternatiewe bied in dié verband.

Laastens word ‘n saak uitgemaak dat die Nederlandse Statevertaling ‘n goeie steekproef bied vir ‘n teks wat binne die Bisantynse tekstradisie ontstaan het. Derhalwe word die moontlikheid gestel dat navorsing op die Statevertaling vir die reformatoriese kerke in Suid-Afrika van groot waarde kan wees en word die publisering van ‘n Reformatoriese Studiebybel vir die Afrikaanse kerkvolk in die vooruitsig gestel.

U kan my volle referaat hier lees: Nuwe tendense en moontlikhede in die studie van die grondteks van die Nuwe Testament