Merkwaardige wending in Nestlé-Aland grondteks

Einde Januarie 2017 is ‘n simposium in Pretoria gehou ter viering van die Reformasie 500 met die tema: Reformasie 500 – grondteks en Bybelvertaling met fokus op die Statevertaling.

Tydens die geleentheid het ek ‘n referaat gelewer oor nuwe tendense en moontlikhede in die studie van die grondteks van die Nuwe Testament. Na aanleiding van die geleentheid, het ek die afgelope tyd spesifiek ondersoek ingestel na die verskille tussen die Nestlé-Aland 27 en Nestlé-Aland 28 uitgawes en ‘n merkwaardige tendens opgemerk ten opsigte van die neiging wat tans in die kritiese uitgawes van die Griekse Nuwe Testament in ontwikkeling is. Dit toon dat die Nestlé-Aland teks, anders as wat verwag sou word, al hoe nader aan die grondteks van die Bisantynse Meerderheidsteks en die sogenaamde Textus Receptus beweeg. Tans is slegs die wysigings aan die Algemene Briewe van die Nuwe Testament soos dit verskyn in die nuwe Nestlé-Aland 28 uitgawe beskikbaar. ‘n Vergelykende studie bied egter reeds baie interessante tendense aan.Hieronder is die skakel na my volledige verslag met ‘n dokument waarin ek die Griekse tekste van die Nestlé-Aland 27 en 28, die Bisantynse meerderheidsteks van Robinson en Pierpont, en die Textus Receptus van Scrivener met mekaar vergelyk.

Verskille tussen Nestlé-Aland (NA)27 en NA28 bring merkwaardige tendens na vore