The Mystical Presence – John Nevin

Waaroor handel die boek?

‘n Herverwerkte uitgawe van die boek wat John Nevin in 1846 geskryf het, uitgegee in 2012. Aangesien ek reeds Boersma en Littlejohn gelees het (ek het hierbo na hulle verwys) het ek besluit om die oorspronklike teks van John Nevin self te lees. Hier is ‘n paar opmerkings oor die boek.

Die Woordverkondiging en die sakramente is die hartklop van die Christelike erediens. Om dié rede is dit belangrik dat die kerk seker is waarom hulle die nagmaal vier. Nevin vra: is Christus in die nagmaal teenwoordig? Die antwoord is net “ja” of “nee” – dit kan nie miskien of onseker wees nie.

Indien ons getrou is aan die Skrif en die kerkvaders se prediking, kan ons mos nie anders as om te aanvaar dat Christus wel in die nagmaal teenwoordig is nie. Die vraag is egter onder reformerende kerke: hoe is Hy teenwoordig? Aan die een uiterste vind ons die Roomse transsubstansiasie dwaalleer wat leer dat Christus se liggaam en bloed word werklik in die wyn en brood verteenwoordig. Aan die ander kant kry ons die simbolisme wat Christus nie werklik teenwoordig sien in die nagmaal nie, maar net ‘n simboliese heenwysing na die teenwoordigheid van Christus in die hemel bely, waarvan die wyn en brood op aarde tekens is.

Die vraag oor die teenwoordigheid van Christus, en in watter mate Hy teenwoordig is in die kerk word deur Nevin vanuit die Skrif, kerkvaders, geskiedenis en reformasie bekyk. Verder wys Nevin op die beskouing oor die nagmaal in die Lutherse kerke en die moderne Puriteinse groepe, en meen dat Calvyn se beskouing oor die nagmaal in die reformasie die suiwerste was, maar dat Calvyn se standpunt dikwels in gereformeerde kerke misgelees word.

‘n Besondere deel van die boek kyk in detail na die drie formuliere van eenheid se leer oor die nagmaal, en Nevin vra of alle gereformeerde kerke die volle implikasie van die belydenisskrifte oor die nagmaal besef en leer?

Vir wie is die boek bedoel?

Vir teoloë en leraars wat graag meer wil weet oor die beskouing van die kerk deur die eeue heen oor die nagmaal en die betekenis daarvan vir die moderne kerk. ‘n Baie insiggewende boek en die moeite werd om deur te werk.