A History of the Textual Criticism of the New Testament – Marvin Vincent

Prof. Gerrit Smit

Waaroor handel die boek?

Die boek se titel is presies waaroor die boek handel: ‘n Geskiedenis van die Tekskritiek van die Nuwe Testament. Oor hierdie onderwerp is al baie geskryf. Die debat oor die grondteks van die Nuwe Testament is lank nog nie verby nie en om dié rede sal werke soos dié van Vincent ‘n belangrike bydrae lewer in die verstaan van die onderwerp van die grondteks van die Nuwe Testament.

Vincent fokus spesifiek op die vraag oor die outograwe (oorspronklike teks) van die Nuwe Testament en die oorsake vir teksvariasie in die kopiëring van die Nuwe-Testamentiese tekste.

Hy gee in hierdie werk ‘n besondere oorsig oor die teks van die Nuwe Testament in die vroeg-Christelike kerk – iets wat weinig ander komtemporêre werke oor die Nuwe-Testamentiese Tekskritiek doen. Hy fokus veral op die teks van die Nuwe Testament in die tydperk 200 – 1200 n.C. waaroor daar nie in ander soortgelyke werke veel inligting beskikbaar is nie, en behandel vervolgens die vraagstuk rondom die Textus Receptus en die genealogie van die Nuwe-Testamentiese manuskripte.

Die werk van Vincent is ‘n opgedateerde geskiedenis van die studie van die teks van die Nuwe Testament, wat veral die geskiedenis van die 20ste eeu rondom die navorsing en bevindinge van die teks van die Nuwe Testament na vore bring.

A History of the Textual Criticism of the Bible deur Marvin Vincent is ‘n goeie en hanteerbare inleiding vir studente oor die studie van die grondteks van die Nuwe Testament en gee ‘n basiese oorsig oor die teorie van die Nuwe-Testamentiese Tekskritiek. Hierdie werk kan baie waardevol wees vir leraars en lidmate wat antwoorde soek op die vraag: waaroor gaan die hele debat oor die grondtekste?

Teologiese studente en predikante behoort kennis te neem van hierdie werk.