Jan van Riebeeck toe nie ‘n skurk nie!

Op 6 April herdenk ons die koms van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika, toe hy op dié dag in 1652 voet aan wal gesit het aan die Kaap van Goeie Hoop met die skepe Drommedaris, Reyger en De Goede Hoop.

Van Riebeeck bring die Gereformeerde leer na Suid-Afrika

Sy opdrag deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) van Nederland om ‘n verversingspos aan die Suidpunt van Afrika te vestig vir verbygaande skepe, word as die geboortedag van Suid-Afrika se Westerse beskawing beskou en in besonder die geboorte van die Afrikanervolk.

Tog word Jan van Riebeeck en sy koms na Suid-Afrika vandag deur sekere politieke groepe as die begin van Suid-Afrika se probleme bestempel.

6 April, wat vroeër as Stigtingsdag bekend gestaan het, en in die ou bedeling as ‘n openbare vakansiedag herdenk is, het nou so stilletjies verdwyn dat selfs Afrikaners nie meer onthou watter besondere betekenis hierdie dag in ons geskiedenis het nie.

Ons sien in die koms van Jan van Riebeeck en sy geselskap egter die besondere voorsienigheid van God. Reeds op 8 Julie 1497 het Vasco da Gama in Suid-Afrika aangekom met ‘n Portugese vloot. Die Portugese was op daardie stadium Rooms-Katolieke in geloofsoortuiging.

Indien Da Gama sou besluit om in Suid-Afrika aan te bly en die Portugese hier ‘n kolonie sou stig, sou Suid-Afrika heel waarskynlik die volgende jare deur die Rooms-Katolieke teologie oorgeneem gewees het en dan sou die teologie in Suid-Afrika vandag heel anders gelyk het.

Die Here het dit egter beskik dat dit eers met die koms van Jan van Riebeeck geleë sou wees om ‘n kolonie te begin. Sy koms het die Gereformeerde leer na Suid-Afrika gebring. Sy geloof in God en die besef dat dit die beskikking van die Allerhoogste is wat hulle na die Suidpunt van Afrika gebring het, word duidelik raakgelees in die gelofte wat Jan van Riebeeck op 6 April 1654 (twee jaar later) afgelê het.

Die Sinode van Dordt (1618-1619) en die koms van Jan van Riebeeck.

Ons vier vanjaar die vierhonderdste herdenking van die Sinode van Dordt wat in 1618-1619 gehou is. Dié Sinode word beskou as die belangrikste Sinode in die Reformasie aangesien daar standpunt ingeneem is teen die dwaalleer van die vrye wil van die mens en etlike ander belangrike besluite geneem is wat die Gereformeerde leer in die Westerse beskawing bepaal het.

Van Riebeeck bring die Calvinistiese reformasie na Suidelike Afrika

Dit is baie belangrik dat ons nie die historiese verloop van die reformasie in Jan van Riebeeck se volksplanting moet vergeet nie. Volksgeloftes vloei voort uit die reformatoriese belydenis van die albeskikking van God.

In die teologie van die Rooms Katolieke het die Semi-Pelagianisme (dat ek vir God kies, en nie Hy vir my nie) ‘n hoogbloei beleef. Hulle het geleer dat die mense deur sy goeie werke kan bydra tot sy saligheid. Tydens die Groot Reformasie van die 16de eeu, het die reformatore met hierdie Semi-Pelagiaanse kettery (wat beweer dat die mens deur sy werke gered kan word) gebreek en weer teruggegryp na die Skrif en die belydenis van God se uitverkiesende genade en gevolglike totale beheer van die skepping. Alle gereformeerdes het egter nie dieselfde gedink oor die saak nie.

Toe Nederland in die laaste kwart van die sestiende eeu sy vryheid van Spanje verower en die gereformeerde godsdiens heersende godsdiens in die land geword het, was daar dus reeds twee stromings in die Gereformeerde kerklike lewe onderskeibaar: diegene wat die gereformeerde belydenis in ooreenstemming met die tradisie sedert Calvyn voorgestaan het, en diegene wat ’n meer tolerante, moralistiese en meer humanistiese vertolking daarvan op die oog gehad het. Die twee stromings het steeds duideliker uitgekristalliseer as dié van die Calviniste en die Libertyne.

Die groot stryd tussen die groepe het uitgebreek toe die Libertyne ondanks teenstand uit behoudende kringe, daarin geslaag het om Jacobus Arminius in 1603 benoem te kry tot professor in die teologie te Leiden.

Reeds in 1604 het dit duidelik geword dat hy en sy kollega, Franciscus Gomarus, heeltemal verskillend oor die weg van saligheid en die uitverkiesing en God se soewereiniteit gedink het. Die verskille het spoedig uitgekring en die gemoedere in beweging gebring, veral toe leerlinge van Arminius sy opvattings van die kansels begin verkondig het. Arminius self is reeds in 1609 oorlede, sodat die eintlike stryd eers na sy dood plaasgevind het.

Utenbogaard het toe die leier van die Arminiane geword. In 1610 lê hy saam met veertig ander ’n Remonstrantie of verweerskrif aan die State van Holland voor om die posisie van die Arminiane te verduidelik. In 1611 antwoord die Gereformeerdes onder leidng van die predikant Festius Hommius daarop met ’n Contra-remonstantie waarin die standpunte van die Remonstrante weerlê word. Vandaar dat dit gebruiklik geword het om na die partye as die Remonstrante (Arminiane) en die Contra-Remonstrante (Gereformeerdes of Gomariste) te verwys.

By hierdie alombekende Sinode van Dordrecht (1618–1619) is die Remonstrante veroordeel en die Vyf Dordtse Artikels opgestel en goedgekeur. Dit was die geboorte van die Dordtse Leerreëls (DL). Op grond daarvan is ’n suiweringsaksie onderneem waarin meer as 200 predikante in Nederland uit die amp van leraar afgesit is.

Die DL bely saam met die ander Gereformeerde belydenisskrifte die absolute heerskappy van God oor die lotgeval van mense en volke.

In die volksplanting sien ons dan juis ook die beskikking van God dat die remonstrante stryd teen 1618/1619 afgehandel was en van Riebeeck in 1652 die suiwer Calvinisme in Suidelike Afrika indra. In van Riebeeck se gelofte vind ons die kragtige Reformatoriese getuienis van God se verkiesende genade in die verloop van die geskiedenis en dat niks per toeval gebeur nie, in die woorde “ons het besluit om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel…”. Dit is dus op grond van die oorwinning van die suiwer Calvinisme oor die Libertynse dwaalleer aan die begin van die 16 eeu dat van Riebeeck se gelofte die Calvinistiese belydenis onderskryf van “ons het tot hier gekom deur die beskikking van God alleen”.

As dit God is wat ons tot hier gebring het, is daar ‘n toekoms vir ons en ons kinders

Dit plaas gevolglik ook vir ons vandag die toekoms in perspektief, want as ons tot hier kom alleen deur God se genade kan ons staat maak dat daar in donker Afrika ‘n toekoms is want dieselfde genadige God is vandag nog in beheer.

Van Riebeeck se koms na Suid-Afrika was dus nie die koms van ‘n skurk wat wou plunder en roof nie. Die stigting van ‘n Nederlandse kolonie aan die Kaap word die trotse geboorte van die Afrikaner en die begin van die koms van die lig van die Evangelie na donker Afrika.