God se Woord in Grieks

Gister was internasionale Septuagint-dag. Die ontstaan van die Griekse vertaling van die Ou Testament, bekend as die Septuagint (LXX), moet verstaan word teen die agtergrond van die 3de eeu voor Christus en die gebeure in Aleksandrië, Egipte. Hoewel Hebreeus steeds deur die Jode in Palestina gepraat was, was Grieks reeds vir etlike dekades die spreektaal van die Jode in Aleksandrië, wat in Egipte gevestig het as gevolg van die diaspora (verstrooiing) onder die Assiriese ballingskap.Die LXX het waarskynlik reeds lank voor die amptelike ontstaanstyd ‘n begin gehad in die sinagoges van Aleksandrië, waar voorlesings uit die Hebreeuse teks gedoen is, en ‘n vertaler die teks vir die Griekssprekende Jode in die sinagoge in Grieks vertaal het.

Volgens die brief van Aristeus (2e eeu v.C.) het Demetrius, wat deur die Farao aangestel was om die beste boeke van die wêreld vir sy biblioteek in Alexandrië bymekaar te maak, gemeen dat die Joodse Torah ook in die biblioteek se argief opgeneem moet word. Farao Ptolemeus II (285–246 v.C.), wat die eienaar van die biblioteek was, het ‘n afvaardiging na Eliëser, die hoëpriester in Jerusalem gestuur, met die versoek om geleerde manne te voorsien om die vertaling te doen. Eliëser het daarop 72 manne na Alexandrië gestuur met Hebreeuse Torah rolle. Hulle is na die eiland Pharos geneem, waar hulle volgens oorlewering in afsondering die vertaling van die Ou Testament vanuit die Hebreeuse taal na Grieks in 72 dae gedoen het. Die vertaling is die Septuaginta (“sewentig”) genoem, ter nagedagtenis aan die 72 vertalers. Dit word tradisioneel met die Romeinse syfers LXX (70) aangedui. Daar is ander teorieë ook oor die ontstaan van die LXX maar hierdie is histories die mees betroubare weergawe van hoe die LXX ontstaan het.

Die LXX het ‘n groot invloed op die godsdiens van die Jode in die tussen-testamentêre tydperk gehad. Die Here Jesus en die apostels haal ook in die Nuwe Testament uit die LXX aan as hulle die Ou Testament aanhaal.

In ‘n dokument wat dateer uit 533, het keiser Julinianus, op 8 Februarie 533 toestemming gegee dat daar voortaan in die Romeinse Ryk op dié dag jaarliks voorlesing uit die heilige geskrifte mag wees in enige taal van die mense se keuse. Hy het egter bepaal dat dié wat uit die Ou Testament lees, slegs die teks van die 70 (LXX) mag gebruik. So het 8 Februarie amptelik in die Romeinse Ryk as Septuagint-dag bekend geword. Dit is die afgelope paar jaar weer opnuut deur baie ter herinnering aan die vertaling van die Bybel in Grieks gevier, waarin die besondere bydrae van die LXX as Woord van God in Grieks in die geskiedenis van die Ou Testament erken word.