Die waarde van godsdiens

Verlede week is daar ‘n baie interessante studie gepubliseer in die Interdisciplinary Journal of Research on Religion in die VSA. Die studie fokus op geloof in die VSA se bydrae tot die sosio-ekonomiese welstand van die samelewing, en wat die tendense is ten opsigte van mense se godsdienstige keuses en die samelewing.Wat nie verras nie, is dat aangetoon word dat mense oor die algemeen in die VSA minder belangstel in die kerke en selfs godsdiens oor die algemeen. Wat wel verrassend is, is dat die geldwaarde wat mense aan godsdiens in die VSA die afgelope 15 jaar spandeer het, aansienlik gestyg het. Die gemiddelde lidmaat gee dus meer vir die kerk vandag as 15 jaar terug.

Daar is heelwat kritiek oor die rol wat godsdiens in die moderne samelewing speel, met sommige wat selfs meen dat godsdiens skadelik is vir die samelewing (kyk bv. hier), veral as gevolg van die negatiewe persepsie wat ontstaan het oor die rol van godsdiens in terreur-aanvalle die afgelope dekades. Ten spyte van die kritiek, toon die studie dat godsdienstige opheffingsprogramme in die VSA tot soveel as $9-biljoen bydra tot sosiale projekte en dat kerke se gemeenskapsprojekte verdriedubbel het die afgelope 15 jaar; dat kerke verantwoordelik is vir 150 000 dwelm- en alkoholverwante rehabilitasieprogramme in die VSA alleen.

Die studie wys verder verdoemende getuienis téén die gewilde aanname van ateïste en agnostisiste in die VSA: 63% van ateïste is van mening dat die kerk geen noemenswaardige bydrae in die samelewing lewer nie, terwyl die studie bewys dat godsdienstige instellings ten spyte van belastingkwytskelding, op ander terreine van die grootste bydraers tot die VSA se ekonomie is, en dat die regering 17 keer meer verdien uit godsdienstige instellings as wat vrygeskeld word. Ongelukkig is ‘n soortgelyke studie in Suid-Afrika sover ek weet nog nie gedoen nie, maar dit sal interressant wees om die statistieke met dié van die VSA te kon vergelyk.

Wanneer beweer word dat godsdiens irrelevant of selfs oorbodig geword het, en dat wetenskap en geloof teenoor mekaar staan, kan ons tereg die vraag vra: hoe wetenskaplik is so ‘n aanname?

Jy sal die studie waarna ek hierbo verwys het, hier vind.