Die vervolging van Christene onder Nero (64nC)

Skildery van Nero deur Filippo Brunelleschi.

In die vorige deel in die reeks oor die vervolging van die vroeg-Christelike kerk is gefokus op godsdienstige redes waarom die Romeine die kerk vervolg het.

In die volgende paar dele gaan ek kortliks fokus op die hoogtepunte (laagtepunte?) van die vervolging in die eerste eeue onder verskillende keisers. Dit laat ons weer besef hoe belangrik dit is dat die kerk na die geskiedenis kyk om te leer met die oog op die toekoms.

Die geskiedenis loop altyd siklies: wat was sal wees, en daar is niks nuuts onder die son nie.

In dié opsig gee die  kennis oor die vroeg-Christelike kerk se hantering van vervolging vir ons ‘n belangrike sleutel vir die hantering van konfliksituasies en moeilike vraagstukke in die hedendaagse samelewing en kerk.

Die vervolging onder keiser Nero (64 n.C)

Die gebeure wat aanleiding gegee het tot die eerste amptelike vervolging van die kerk, het plaasgevind in 64 n.C. Op 19 Julie 64 was daar ‘n groot brand in Rome wat vir etlike dae geduur het. Tien van die veertien distrikte van Rome is in puin gelê, en ‘n geraamde getal van 1-milijoen inwoners is skielik dakloos en sonder voedsel en lewensmiddele gelaat . Reeds in die aanloop tot die brand in Rome was daar spanning in die stad tussen Nero, die keiser van die Romeinse Ryk, en sekere van sy teenstanders oor Nero se planne . Die plan van Nero het hom baie ongewild gemaak in Rome. Kort na die brand in 64 het van die teenstanders van Nero vingers gewys na die keiser self, dat óf hy, óf iemand deur hom gemagtig daartoe die brand sou stig om so plek te maak vir sy planne te midde van die weerstand. Wat Nero “se planne” was, word ongelukkig nie vir ons beskryf nie. Daar bestaan ‘n teorie dat Nero die groot ideaal gekoester het om Rome in ‘n belangrike sportstad te omskep, soortgelyk aan Korinte of Efese en dat hy die brand gestig het om van die geboue ontslae te raak wat sy teenstanders nie wou laat sloop nie.

Daar is nie bewyse dat Nero werklik die stad aan die brand laat steek het nie, nietemin was die feit dat die stad gebrand het, ‘n rede vir Nero om iemand as sondebok uit te wys en so sy onskuld te bewys. Vir Nero was die ideale sondebokke die Christene in Rome.

Baie van die lede van die Christelike kerk in Rome is in die proses ter dood veroordeel en is snags in die paleistuin van Nero se Colosseum aan lamppale vasgemaak en met pik gesmeer en aan die brand gesteek om aan Nero lig te verskaf terwyl hy in sy paleistuin wandel . Sommige van die gemeentelede is gekruisig en ander is vir wilde diere en “mal honde” gevoer. Dit is in hierdie tyd wat Paulus onder Nero gesterf het, en volgens oorlewering kort hierna ook Petrus.

Nero se vervolging skep die president en bloudruk vir die wyse waarop Christene die volgende drie eeue deur die Romeinse owerheid behandel sou word. Op hierdie stadium was die vervolging van die Christene beperk tot Rome en vind ons nie bewyse in die geskiedskrywing van die tyd dat daar ‘n georganiseerde vervolging van Christene elders in die Romeinse Ryk plaasgevind het nie. Sommige geleerdes is van mening dat hierdie vervolging van Nero nie beskou moet word as ‘n doelbewuste vervolging van Christene nie, maar die owerheid se straf op onderdane wat na sy mening verantwoordelik was vir brandstigting en dus as ‘n goeie voorbeeld van swak strafreg beskou moet word.

Die vraag is egter waarom daar so ‘n groot konsentrasie van Christene in dié tyd doodgemaak is? Vir die kerkvader Eusebius (260-339) lyk dit na ‘n doelbewuste vervolging van Christene.