Christene vandag wéér in die beskuldigde bank

Voor ons Here Jesus se kruisiging was Hy in die beskuldigde bank voor die geestelike leiers van die tyd (die hoëpriester), en later voor die staat (Pilatus). Die uiteinde was dat Hy onskuldig skuldig gemaak is. En in sy voetspore volg sy dissipels die afgelope 2000 jaar.‘n Saak wat beskou word as ‘n “waterskeiding-saak” oor die toekoms van godsdiensonderrig in openbare skole en of openbare skole hulle die reg mag toe-eien om ‘n skool se leerplan op ‘n Christelike grondslag te baseer, word vandag in die hooggeregshof beslis.

Die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (oftewel “ogod” – naamkeuse terloops??) het vroeër 6 skole wat hulle met die Christelike etos en -leer vereenselwig hof toe gesleep “ter wille van die kinders van Suid-Afrika wie se grondwetlike regte op die altaar van godsdienstige praktyke geoffer word”. Een van hulle doelwitte is: “…to promote a democratic, secular and human rights based South African society”.

Hierdie saak, ongeag die uitspraak van die hooggeregshof later vandag, bevestig die waarheid van die waarskuwing van ons Here Jesus:

Johannes 15:20 – “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg”.

Kort na die gebeure van Pinksterdag het die sukses van die prediking van die apostels onder die leiding van die Heilige Gees, die lede van die Sanhedrin in so ‘n slegte lig gestel dat hulle Petrus en Johannes in die tronk gestop het (Hand. 4). Hierna het hulle van die ander volgelinge van Jesus ook in die tronk opgesluit (Hand. 5). Dit het egter die teenoorgestelde uitwerking gehad. Hoe meer Christus se haters probeer het om die Evangelie van Christus stil te maak, hoe meer mense het tot bekering gekom! Weerstand teen die prediking van die apostels het opgebou tot die uitbarsting van gebeure in Handelinge 7, toe Stefanus, die eerste Christen martelaar, gestenig is. ‘n Paar jaar later (moontlik 44 n.C.), het Herodus Agrippa I vir Jakobus, die broer van Johannes, doodgemaak (Hand. 12:2) en Petrus in die tronk opgesluit.

Die vervolging van die Christene het begin. Waar ookal die draers van hierdie Blye Boodskap op aarde sou swerf, sou hulle altyd die woorde hierbo van die Meester , Jesus Christus, moes onthou.

In die eerste 300 jaar na Christus is die volgelinge van Jesus wreed vervolg. Hy het hulle egter gewaarsku dat hulle nie bang moet wees vir mense wat die liggaam kan doodmaak nie, maar eerder besorg moet wees oor die ewige bestemming van die siel (“En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” – Matt. 10:28).

Dit is nogal ironies dat hierdie hofsaak nou in ons land gedryf word: Suid-Afrika het tradisioneel as ‘n Christenland bekend gestaan.

Juis in 2017, in die jaar waarin ons die 500ste herdenking van die Protestantse Reformasie vier, word Christene in Suid-Afrika herinner dat hierdie wêreld nie ons woning is nie, en dat ons maar pelgrims is oppad na ‘n beter tuiste.

Ons moet bewus wees hoe die vroeë kerk die werklikheid van lyding en vervolging verstaan, hanteer, en geleef het om sodoende die moderne kerk toe te rus vir die aanslag op die Waarheid van die Skrif wat meer-en-meer in die openbaar gestry word.  Deur dit te doen, verstaan ons nie net die vroeë kerk beter nie, maar verstaan ons ook die hedendaagse aanslag wat op die kerk van Christus geloods word in perspektief van Christus se woorde aan sy dissipels.

As jy as Christen vandag sou meen dat “martelaarskap” (of meer diplomaties gestel, “lyding en vervolging”) ter wille van Christus en die Waarheid van die Bybel, deel van die geskiedenis van die kerk in die verlede is, en die kerk vandag maar hout-gerus agter die hoë mure en lemmetjiesdraad kan wegkruip, is jy al óf so verblind deur die liberalisme óf uiters onkundig oor die geskiedenis van die kerk, óf jy is baie naïef.

Dink maar bietjie na…