Sola Scriptura – ons roeping in ‘n tyd van Skrifkritiek.

Die Nuwe-Testamentiese studie in nood vir ‘n herwaardering

van die beginsel van Sola Scriptura.

Prof. GDS Smit[1]

Die reformatoriese beginsel dat die kerk voortdurend moet reformeer (in kort: ecclesia reformata, semper reformanda) word vanjaar dikwels gebruik in die vyfhonderdste herdenking van die reformasie. Hoewel Jodocus van Lodenstein (ca. 1674) die eerste gereformeerde was wat die bekende woorde gebruik het, was dit eintlik die bekende kerkvader Augustinus van Hippo wat dié bekende woorde die eerste maal op die taak en roeping van die kerk van toepassing gemaak het.

Deur die eeue heen was daar ‘n stryd binne en buite die kerk om die gesag en die absolute waarheid van die Skrif te handhaaf. Ons leef in ‘n tyd waarin selfs kerkmense die gesag van die Skrif en veral die Nuwe-Testamentiese leer oor die persoon en die werk van Christus bevraagteken. Hoewel die reformasie se slagspreuke veral vanjaar weer aanhoudend gebruik en misbruik word, is dit nodig dat ons weer diepgaande sal besin oor die oproep van die slagspreuk Sola Scriptura (die Skrif alleen). Een van die plekke waar ‘n hedendaagse reformasie broodnodig is, is in die beskouing van sommige Nuwe-Testamentici en kerkmense oor die gesag van die Skrif as Sola Scriptura.

Die verligtingsera (Aufklärung) word gewoonlik met reg as die sondebok uitgewys waarom die gesag van die Skrif nie meer vir baie normatief (absoluut waar) is nie. Die Aufklärung het die mens kom wys maak dat die natuurlike werklikheid die enigste absolute werklikheid is en dat God as absolute werklikheid onsigbaar is en daarom irrelevant geword het. Die gevolg hiervan was dat die absolute gesag van God moes plek maak vir die absolute gesag van die menslike rede. Vir die moderne mens is empiriese navorsing (rede plus bewys) die enigste bron van absolute waarheid.

Die modernisme het op hierdie voorveronderstelling se skouers kom staan en met verloop van tyd word die Bybel nie meer beskou as die Woord van God nie, maar skuif die fokus na die sender (die histories-kritiese eksegese) en later na die ontvanger (resepsiekritiek en literêr-kritiese eksegese). Die Outeur (met ‘n hoofletter) het vir sommige verklaarders en kerke uit die middelpunt van die Nuwe Testament verdwyn. Nou is die Bybelverklaarder, volgens hierdie beskouing, oorgelaat om vir homself die boodskap van die outeur (met ‘n kleinletter) na te vors. Die gevolg is dat engele se gesprekke met mense, die maagdelike geboorte en die opstanding uit die dood onder andere sake is wat maklik as stories afgemaak word. Met gevolg onderneem geleerdes die laaste paar eeue onder die dekmantel van “reformerende denke” ‘n soektog na die “historiese Jesus” wat in wese uiteindelik neerkom op ‘n verloëning van die reformatoriese slagspreuk van Sola Scriptura, soos in die volgende paragrawe verduidelik sal word.

Dat daar ‘n soeke is na die boodskap en betekenis van Jesus Christus is prysenswaardig. Dit bly egter verbasend hoe dikwels teoloë se soeke na antwoorde in die Skrif lei tot ‘n verwatering van die Skriftuurlike grondslae en selfs ‘n bevraagtekening van die Sola (die absolute) van die Scriptura (die Skrif). Die soeke na die “historiese Jesus” het aanvanklik begin as ‘n protesaksie teen die tradisionele Christelike dogma en het ironies genoeg juis gemeen dat die kerk moet “reformeer”! Hierdie “reformasie” was egter nie terug na die Skrif nie, maar eerder verder weg. Die persone wat hierdie soektog gedryf het, meen óók dat hulle “neutraal” was, óók dat hulle reformerend gedink het en óók dat hulle opreg na antwoorde gesoek het, maar terwyl hulle na die Nuwe Testament gekyk het, was hulle van mening dat al wat hulle sien is ‘n Jesus deur die oë van die kerk, en nie soos Hy regtig was nie.

Die eerste persoon wat hierdie soort vrae oor Jesus se aardse lewe voorgestel het, is iemand wat juis ná die sestiende-eeuse reformasie geleef het. Hermann Samuel Reimarus (1694-1768) het reeds sowat 300 jaar gelede ‘n soektog geloods na wat die Nuwe Testament nou eintlik oor Jesus Christus sou leer. Die probleem is egter dat sy soektog opeindig in ‘n dogma-lose soeke na die man van Nasaret, ver weg van Jesus as die Christus en Verlosser van die mensdom. Op sy hakke volg Wilhelm Wrede (1859-1906) met sy felle kritiek oor die Nuwe Testament, veral sy beskouing dat Markus ‘n onbetroubare ooggetuie van Jesus se aardse bediening was.

In 1906 skryf Albert Schweitzer ‘n boek met die titel: Von Reimarus zu Wrede : eine Geschichte der Leben-Jesu-Forschung waarin hy skerp kritiek lewer op die werk van veral Reimarus en Wrede en tot die slotsom kom dat hulle vooraf bepaal hoe Jesus vir hulle moet lyk en dat hulle die Nuwe Testament los van die konteks van die eerste eeu bestudeer en sodoende ‘n “ander Jesus” voorstel as wat die Nuwe Testament ons leer.

Schweitzer se kritiek ontspoor die hele “historiese Jesus debat” vir ‘n half-eeu, totdat die Duitse teoloog, Ernst Käsemann (1906-1998) in 1953 begin met die tweede soeke na die historiese Jesus. Käsemann se aanvanklike rede vir die herondersoek na die vraagstuk was die feit dat die Christendom heeltemal losgemaak word van die historiese grondslag en byna as ‘n soort misterie-godsdiens beskou word los van historiese wortels. Die uiteinde van Käsemann se ondersoek was egter dat die teoloog self bepaal het hoe hy wil hê Jesus moet wees en dit in die teks van die Bybel inlees.

Vanaf die 1980’s het eindelose werke oor die lewe van Jesus verskyn – meeste van hulle met dieselfde hipotese, naamlik dat die evangelies teologies fiktief is, en losgemaak moet word van die las van die kerk se beskouing oor Hom. Teen die draai van die twintigste eeu het ons te doen met die “derde soektog” wat meen dat die Nuwe Testament die kerk se tradisies oor Jesus bevat, maar nie histories betroubaar is vir die vraag: wie was Jesus van Nasaret regtig? nie. In hierdie kringe speel die buite-Bybelse apokriewe en pseudepigrawe soos “Die Evangelie van Thomas”, die “Kinder-evangelie van Thomas” en ander gnostiese tekste ‘n groter rol as die Nuwe-Testamentiese evangeliebeskrywings.

Vir sommige moderne Nuwe-Testamentiese geleerdes is die Evangelie van Thomas selfs ‘n “vyfde evangelie” of dalk eerder die “enigste ware evangelie”. Na aanleiding hiervan beweer hulle dat Jesus nie aanbidding geëis het nie – dit is die kerk wat besluit het om Hom te aanbid! Sodoende word die soeke na die Jesus Christus net ‘n soeke na die man, Jesus, wat in Galilea en Judea geleef en gewerk het.

Dit om al die redes hierbo gemeld belangrik dat ons as kerk wat op die grondslag van die reformasie staan ‘n herwaardering vir die gesag van die Skrif sal koester. Dit moet uitkom in ons prediking, in ons apologetiese werke en in ons gemeentebediening.

Suiwer Woordverkondiging met die absolute gesag van die Skrif (Sola Scriptura) as vertrekpunt, is een van die groot uitdagings in die hedendaagse samelewing en hedendaagse kerk. Die absolute gesag van die Skrif wat die grondslag lê vir suiwer Woordverkondiging, behoort nie ‘n luukse te wees wat gemeentelede van-tyd-tot-tyd (as die dominee kans gehad het om genoeg tyd in die voorbereiding vir die prediking in te sit) te trakteer nie. Dit behoort die basiese ononderhandelbare bousteen te wees van elke preek, Bybelstudie en huisbesoekgeleentheid. Tog wil dit voorkom of leraars, kerkrade en lidmate soms die idee het dat suiwer Woordverkondiging bloot beteken dat die preek bekende teologiese lyne moet volg, die erediens ‘n tradisionele liturgie moet volg, en die gemeente ‘n paar liedere moet saamsing – solank daar niks nuut van die gemeente verwag word nie – dan is dit suiwer en seker dan gevolglik Gereformeerd!

Gereformeerde prediking met Sola Scriptura as vertrekpunt is tog baie meer as om tradisionele historiese lyne te volg. Dit eis onder andere dat daar voortdurend besin word oor die waarheid en die gesag van die Skrif, oor die verlossing van God in die verlede, hede en toekoms en oor Christus se absolute rol as Verlosser en Saligmaker. Soos hermeneutiese voorveronderstellings die studie van die Nuwe Testament die afgelope paar eeue begin ontspoor het, is die identifisering van die hermeneutiese voorveronderstellings in die prediking van uiterste belang, sodat ons nie bloot verander ter wille van verandering nie, maar ook nie bloot behou ter wille van behoud nie, maar werklik reformerend dink, uitlê en preek. Dit is veral in dié tyd waar besinning oor die kerk van gister, vandag en more op die agenda is, belangrik dat ons opnuut hierdie sake aandag laat kry.

Die Christelike geloof en die reformatoriese belydenis oor die gesag van die Skrif word nie bloot op die rekonstruksie van die historiese Jesus gebou nie, maar op die ontmoeting met die lewende Jesus, die Christus, die Verlosser van die kerk! As Christus iemand roep, roep hy hom of haar om te volg en hulself en hul eie vooroordele te kruisig. Christus haal jou uit jou gemaksone en plaas jou in die kollig. In hierdie opsig behoort ons tydens die vyfhonderdste herdenking van die Protestantse reformasie opnuut na te dink oor wat die belydenis van die Skrif as norm van waarheid en gesag vir ons beteken.

[1] Artikel geskryf vir Die Boodskapper (Amptelike blad van die AP Kerk, Oktober 2017).