Laat die dooies hul eie dooies begrawe

“Laat die dooies hul eie dooies begrawe”

Kernaantekeninge oor Matteus 8:22

Wat bedoel Jesus as Hy die dissipel wat dit waarskynlik opreg bedoel dat hy die Here wil volg, antwoord: “laat die dooies hul eie dooies begrawe”? Is Hy nie baie kortaf met hierdie oënskynlik opregte volgeling nie?

Jesus het meestal met sy hoorders gepraat d.m.v. beelde. Wanneer Hy wou hê dat mense moet gaan nadink oor wat Hy sê, het Hy gewoonlik oordrewe beelde gebruik, soos dat ‘n kameel nie deur die oog van ‘n naald kan kom nie (wat op ‘n ander plek reeds behandel is), en hierdie een: Laat die dooies hul eie dooies begrawe.

Die bekende Kerkvader Augustinus vra oor hierdie teks: watter lyk kan ‘n ander lyk begrawe? Hy meen ons moet Jesus se woorde hier as ‘n beeld verstaan wat iets anders wil sê. Hy wil hê dat die beeld geestelik verklaar moet word. Hy sê: “dit is baie moontlik dat hier met die woord “dooies” ongelowiges bedoel word, mense wat nie in die Here glo nie. Hulle is dus geestelik dooies, en die lewendes is dan hulle wat glo. Jesus se antwoord: Laat die dooies hul eie dooies begrawe, wys ons daarop dat om Hom te volg die hoogste prioriteit in die mens se lewe moet hê”. Augustinus meen dat Jesus sê die dooies kan versorg word deur die wat geestelik dood is, ons moet eerder op Hom gefokus wees.

‘n Alternatiewe verklaring

Ek wil aanbeveel dat ons kennis neem van die verklaring van Augustinus en ander, maar dat ons verdere ondersoek instel na hierdie teks. Ek wil dit bepleit dat ons hierdie teks (soos so baie ander van Jesus se uitsprake) volgens die beginsels van die sosio-kulturele benadering moet oorweeg.

Die agtergrond van die teks is vir ons baie belangrik. Vir ‘n Joodse seun was daar geen groter eer in die lewe as om sy bejaarde pa te versorg totdat hy gesterf het nie. Hierdie man wys Jesus waarskynlik daarop dat hy nog ‘n bejaarde pa het wat hy moet versorg (daar word nie pertinent genoem dat sy pa reeds dood is en begrawe moet word nie). Die perikoop lei ons daartoe om af te lei dat hierdie man se pa waarskynlik nog lewend was. Die Joodse gebruik het die man dus verplig om sy vader te versorg. Is Jesus dan onsensitief teenoor die bestaande Joodse gebruik?

Wat sê Jesus dan eintlik vir die dissipel met die woorde : Laat die dooies hul eie dooies begrawe? Verstaan ons die uitdrukking geestelik soos Augustinus dit doen, val ons ons mettertyd vas in die strik van die allegorie, en word dit baie moeilik om Jesus se uitsprake met reg te hanteer.

Ek stel voor dat ons die woorde in Matt. 8:22 eerder as ‘n idioom moet verstaan. Wanneer ons navorsing doen oor die sosiale antropologie van die antieke Mediterreense kulture, wil dit voorkom dat daar baie meer idiome in die Bybel is as wat ons vandag algemeen aanvaar. Deur navorsing van verskeie antieke Griekse en Aramese tekste blyk dit dat die idioom “laat die dooies hul eie dooies begrawe” ‘n algemene idioom was wat alreeds teen 150 vC veral in die Griekse taal in gebruik was, en kom by die Griekse filosowe veral voor as ‘n idioom wat uitdruk dat iemand hulle verkeerd aangehaal het.

Jy verstaan my verkeerd!

Ek stel voor dat wat Jesus bedoel as Hy sê: “laat die dooies hul eie dooies begrawe” nie ‘n sarkastiese opmerking oor die onwilligheid van die man is nie, maar eerder die idioom: Jy verstaan my verkeerd. Hierdie man het gedink dat om Jesus te volg beteken om letterlik in sy voetspore te loop van Galilea na Judea, Samaria en verder. Jesus sê vir hom: Man, jy verstaan my verkeerd, ek bedoel nie volg my letterlik, loop voet vir voet agter my aan nie, maar eerder: Volg my geestelik. Volg my woorde, my voorbeeld, my oproep tot bekering. So gesien is Jesus is dus nie kortaf met hierdie dissipel nie, hy wys hom daarop dat hy Jesus reg moet verstaan. Jesus het nie maar ‘n gewildheidsklub gestig of vir mense gesê: bekeer julle en sterkte en seën en groete nie. Hy het ook nie bloot verwag dat almal agter Hom moet aanloop nie, hulle moes Hom VOLG. Verstaan u wat dit behels, dat Jesus nie bedoel dat die man hom nie moet steur aan sy bejaarde pa nie, maar dat hy Jesus moet VOLG deur sy voorbeeld, sy lewe, sy getuienis. Dis meer waarskynlik dat hierdie beeld so verklaar moet word. Iemand kan reageer op my verklaring deur te verwys na Luk. 9:57-62 waar Jesus onder meer noem dat iemand nie sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk nie. Daar wil dit voorkom dat Jesus tog van die dissipels verwag om letterlik agter Hom aan te gaan, maar gaan kyk gerus weer na vers 58 en die laaste deel van vers 60. U sal in die teks moet inlees om te meen hulle het Jesus wel letterlik gevolg! Daar is wel voorbeelde in die NT van mense wat alles agtergelaat het en Jesus gevolg het. Ek meen Matt 8:18-22 is nie een van hulle nie.

Verstaan u iets hiervan? Ons moet verstaan dat ons eie behoeftes nie punte tel ten koste van die koninkryk nie, maar dat Jesus tog meen dat hierdie man agter Hom kan aanloop, al sou hy by sy bejaarde vader bly.