Geld die waarskuwing in Openb. 22:18-19 die hele Bybel?

Vraag: Is die waarskuwing in Openbaring 22:18-19 van toepassing op die hele Bybel of net op die boek Openbaring? Mag ons dan die Bybel vertaal soos ons wil?


Openbaring 22:18-19 gee ‘n waarskuwing aan elkeen wat doelbewus die boodskap van die Bybel verdraai.

Hierdie waarskuwing word spesifiek aan die einde van die boek Openbaring opgeteken omdat dit eerstens oor die boodskap van die boek Openbaring gaan. Christus is self die Outeur van die boodskap van Openbaring (Op. 1:1) en dit is Hy wat aan Johannes toon wat sal gebeur en die opdrag gee om dit neer te skryf. Aan die einde van die boek gee Hy ‘n waarskuwing dat mense nie die profesie wat in die boek opgeteken is, mag verdraai nie ander sal hulle nie die ewige lewe erf nie.
Tog is die beginsel wat gestel word in Openbaring 22:18-19 van toepassing op enigeen wat enige van die woorde van God in die Bybel verdraai en ‘n valse leer verkondig.

Ons vind ‘n soortgelyke waarskuwing in Deut. 4:1-2, waar Moses die volk Israel gewaarsku het om gehoorsaam te wees aan die opdragte van God en niks van die Woord weg te neem of daarby te voeg nie.

Ons sou dus moet aanvaar dat die boodskap wat die twee gedeeltes gee, die hele Bybel insluit en dat ons baie versigtig moet wees hoe ons die Bybel verstaan en uitlê sodat ons nie ‘n valse leer verkondig nie.

Wat Bybelvertaling betref, is die vraag baie wyd gestel en ek sal probeer om dit in enkele sinne saam te vat:
a) Dat die Bybel vertaal word in ‘n taal wat volke kan verstaan is so oud soos die Bybel self. Daarmee is dus in wese nie ‘n probleem nie.
b) Bybelvertaling is ‘n baie deeglike en verantwoordelike proses en indien die Bybel met omsigtigheid vertaal word, is die vertaling van die Bybel nie in konflik met die waarskuwing in Openbaring 22 nie.
c) Ons mag nooit die Bybel vertaal soos ons wil nie. Die Bybel is God se Woord en daarom moet die vertaler nooit vra: hoe wil die mense die teks hoor, of hoe verstaan die mense die boodskap nie? Die uitgangspunt van Bybelvertaling moet altyd wees: wat sê God vir die kerk en die wêreld en hoe kan dit vertaal word op so ‘n wyse dat die mense dit beter verstaan sonder om aan die boodskap van die Bybel afbreek te doen of ‘n ander Evangelie te verkondig.

Hierdie is die toets of ‘n Bybelvertaling aanvaarbaar is of nie, naamlik hoe konsekwent dit God se boodskap in verstaanbare taal weergee sonder om die boodskap van die Bybel te verskraal of te verdraai.