Ester nie die enigste Bybelboek sonder God se Naam nie?

Prof. Gerrit Smit

Die baie bekende werk van Paul R. House getiteld Old Testament Survey, maak melding daarvan dat Ester nie die enigste boek van die Bybel is waarin die Naam van God nie voorkom nie. Hooglied bevat ook nie die Naam van God nie. Hierdeur ontken hy nie die geïmpliseerde teenwoordigheid van God in die boeke Ester en Hooglied nie, maar wys op die eksplisiete afwesigheid van die Naam in die teks.

Die een vers waarin die Naam van God moontlik in die boek Hooglied ter sprake kom, is in Hooglied 8:6. In die 1953 Afrikaanse Vertaling word dit so vertaal: “Dra my soos ‘n seëlring op u hart, soos ‘n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die HERE”, terwyl die King James vertaling dit so vertaal: “Set me as a seal upon thine heart, as a seal upon thine arm: for love is strong as death; jealousy is cruel as the grave: the coals thereof are coals of fire, which hath a most vehement flame”. Watter vertaling is reg en kom God se Naam regtig nie in die Hebreeuse teks voor nie?

Wanneer na die vertaling van die King James Version gekyk word, is House inderdaad reg dat die Naam van God nie in die vertaling van Hooglied in hierdie vertaling gemeld word nie. Die Naam HERE kom wel voor in die 1953 Afrikaanse vertaling. In die Hebreeuse teks vind ons die frase (ek transkribeer dit): šalhebot-jáhDie “Jah” aan die einde van vers 6 is die afkorting vir die woord Jahwe wat dikwels in die Ou Testament so gebruik word. By die tekskritiese opmerkings van die Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS) is wel ‘n opmerking dat die teks gelees moet word as: “šhalhebot-Jach” wat vertaal word met ‘n vlam van Jahwe (die Here).

House is dus reg in die enger sin (en as jy net na sekere vertalings kyk) dat die Naam van God nie voorkom in Hooglied nie. Maar die afkorting van Jahwe kom wel voor in Hooglied 8:6. In die wyer sin is House dus nie korrek nie. God se Naam kom wel in Hooglied voor, hoewel slegs 1 maal, en in ‘n afkortingsvorm.