Die samestelling van die kanon

Hoe die Samestelling van die Kanon Plaasgevind het

Prof. Gerrit Smit

Ons leef in ‘n tyd waarin daar baie verwarring bestaan oor die Bybel en sy gesag. Ons vind dikwels opmerkings dat die kerk self besluit het watter boeke in die Bybel moes wees en watter nie, en dat die samestelling van die boeke wat in die Bybel is en dié wat daaruit gelaat is, bloot deur die meerderheid bepaal is.

Die kanonieke boeke is nie doelbewus deur mense uitgesoek of deur die oordeel van mense of ’n raad of Sinode goedgekeur vir opname in die Bybel nie. Die kanon het nie ontstaan deur allerlei beredenering waarop ’n meerderheidsbesluit van ’n kerklike vergadering gevolg het nie. As ons glo dat die Bybel voortgebring is deur ’n goddelike werking in die lewens van sekere uitverkore persone, kan daar nie ook sprake wees van bloot menslike beslissings ten opsigte van die geskrifte wat daarin opgeneem moet word nie.

 Ons moet aanneem dat die outeurskap van geskrifte wel ’n rol gespeel het. Dit wat, byvoorbeeld, van die pen van Moses, Dawid, die erkende profete en die apostels voortgebring is, moes in sigself ’n besondere gesag gedra het. Dit kan egter nie die deurslaggewende faktor wees nie, omdat die outeurskap van etlike Bybelboeke in onsekerheid gehul is, soos, byvoorbeeld dele van die Pentateug, Job, 1 & 2 Samuel, dele van Jesaja en Hebreërs.

Die aard van die inhoud en die onderwerpe wat behandel word, sou uiteraard ook ’n groot rol gespeel het om die kanonisiteit van die Bybelboeke aan te dui. Dit sou veral die geval wees waar dit aan die woorde en dade van God gekoppel word. En tog was daar ook ander geskrifte, die apokriewe, wat ook oor goddelike openbarings en stigtelike gedagtes handel, maar wat nie in die kanon ingesluit is nie.

Ons glo dat die samestelling van die Bybel uit die bepaalde 66 boeke ’n beskikking van God is. God het self deur die boeke getuienis gelewer dat hulle deel van die heilige Skrif is. Die kerk het met die loop van tyd en deur die gebruik daarvan, die boeke, en nie die ander destydse geskrifte nie, as kanoniek geleer ken en as sodanig aanvaar. Dit het gebeur deur die werking van die Heilige Gees.