Die betekenis van die opstanding van Christus.

Wat is die gevolg van Christus se oorwinning oor die dood?

Prof. GDS Smit (2017)[1]

Ons ken die gebeure rondom die opstanding van die Here Jesus. Ons bely dit in die 12 artikels en ons hoor dit in die prediking. Ons weet ook van die hartseer werklikheid dat daar mense, (ja selfs sogenaamde kerkmense!) is wat die opstanding van ons Here Jesus bevraagteken of ontken.

Hierdie soort ontkenning is nie ‘n nuwe verskynsel nie en ook nie uniek aan die tyd waarin ons leef nie. Dit het trouens alreeds in die vroeë kerk voorgekom en kan sover teruggaan as die eerste Christelike kerke. Hieroor waarsku die Woord alreeds in 1 Johannes (Lees bv. 1 Joh. 2:18-25) en op vele ander plekke.

Ons dink vandeesmaand aan die betekenis van die opstanding van ons Here en in besonder hier ook aan die betekenis van sy oorwinning oor die dood. Maar, dink ons genoeg aan die geweldige impak wat die opstandingsgebeure op ons lewe maak, en hoe diep en ingrypend die opstanding van Christus ons lewens kom verander het? Dink ons genoeg daaraan dat die opstanding van Christus en wat ons daaroor glo en bely, die fondament van ons hele geloofslewe bepaal?

Kom ons leer opnuut in 1 Korinthiërs 15 enkele beginsels oor die ingrypende betekenis van die opstanding van Christus vir ons. Ons vat dit in 3 punte saam:

  1. Hy het uit die dood opgestaan
  2. Ons het die waarborg van die opstanding met Christus
  3. Die dood se angel is gebreek

Hy het uit die dood opgestaan

Dit is die eerste belangrike betekenis van Christus se opstanding: Hy het uit die dood opgestaan. Daarmee het Hy die bande waarmee die dood die mens vashou aan verganklikheid en nietigheid, gebreek.  Hy het die dood, die straf op die sonde, finaal oorwin.  En juis daarom kan Paulus aan die einde van die bemoedigende woord oor die opstanding van Christus sê: Dood, waar is jou angel?  Doderyk, waar jou oorwinning? (1 Kor. 15:54,55). En so, deur Christus se opstanding, het die dood, as straf op die sonde, sy krag verloor. Verstaan u die wonder hiervan?  Die dood het nou sy krag in my lewe verloor.  Ek kan nie meer verlore gaan nie.  Ek is op grond van Christus, met God versoen!

So as Christus nie opgestaan het nie, sou ek nog steeds in die sonde se kake gewees het en ewig verlore gaan (vgl. 1 Kor. 15:17.

Die opstanding gee ‘n waarborg: ons staan met Hom op

Die tweede belangrike betekenis van die opstanding is: ons staan met Hom op. Die Woord verbind die opstanding van Christus met ons geloof (vgl. Efes. 2:5-6). Ons is van nature (letterlik vanuit ons natuurlike erfsonde) geneig om God en ons naaste te haat (Heidelbergse Kategismus antwoord 5). As jy ‘n appelpit plant, kom ‘n appelboom op. As Adam en sy nageslag na die sondeval voortplant, kom sondaars die wêreld in! Al lyk die babatjie klein, onskuldig en vroom, is dit ‘n klein sondaartjie wat in sy mamma se arms lê – wat versoening met God nodig het. En Christus het vir sulkes opgestaan. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, waarborg Hy op grond van Christus se opstanding dat al God se uitverkore kinders sal opstaan uit hulle sonde en kragtig lewend gemaak sal word. Met dieselfde krag waarmee die Vader Christus opgewek het, werk Hy ook deur sy Gees in my dooie hart om dit weer lewend te maak en op te wek vir ‘n nuwe lewe.  Die Dordtse Leerreëls beskryf dit treffend: “Dit is die wedergeboorte, nuwe skepping, opwekking uit die dode en lewendmaking…wat God sonder ons in ons werk. En dit word in ons volstrek nie teweeggebring deur middel van die uiterlike prediking alleen of deur sedelike aanprysing, of deur enige werking van sodanige aard (dat dit)… in die mens se mag sou lê om wedergebore of nie wedergebore te word nie, bekeer te word of nie bekeer te word nie” (DL 3-4, 12).

So as Christus nie opgestaan het nie, sou ek nie tot geloof gekom het nie.

Die dood se angel is gebreek

Die derde belangrike betekenis van die opstanding is: die dood se angel is gebreek. Die opstanding van Christus gee ‘n heerlike versekering: ek gaan eendag weer saam met Christus opstaan (1 Kor. 15:22-23). Dit is die rede waarom ons die hartseer, ellende, voorspoed en teëspoed van hierdie aardse lewe blymoedig kan aanvaar. Dit gee ons geloofsekerheid om te kan bely dat hierdie wêreld nie ons voltydse woning is nie, maar dat ons pelgrims is oppad na ‘n ander, ewige, heerlike huis (vgl. 2 Kor. 5:1-10). Die opstanding van Christus word die krag wat ons dra deur die pelgrimstog van die lewe.

Dit is ook die troos wat ons het as ons by die oop graf staan: ons staan op grond van Hom nie alleen nie, maar ons het ‘n Poort na die ewigheid. Dit is nie die einde nie, maar die begin – die wenstreep wat lei na feesvieringe! In hierdie opsig leer die Woord die dood het sy verskriklike angel verloor en sy gewaande oorwinning was maar tydelik. Ek is oppad na die Vader se huis.

Ons hoef dus nie te leef asof ons in ’n begrafnisstoet is en voortdurend die mag van die dood besing asof daar geen hoop is nie. Al lyk dit soms so, het die dood nie die finale mag nie. Daarom leef ons vol hoop en sterf ons vol verwagting.

So as Christus nie opgestaan het nie, was die dood nog ‘n verskrikking en sy angel steeds my bedreiging.

Ten slotte

In die herdenking van Paasfees, en in besonder die gebeure rondom die opstanding van Christus, moet ons nie alléén die werklikheid van die gebeure bedink nie, maar ook die werklikheid van die betekenis van hierdie gebeure vir ons. Die opstanding gee ‘n absolute sekerheid dat Hy die dood oorwin het, dat ons met Hom oorwin het en dat die dood se verskrikking nie mag oor my het nie.

Die lyding en uiteindelike sterwe van Christus is vir ons belangrik, maar die opstanding is die kern van die Evangelie – die Blye Boodskap. Sonder Christus sou die lewe leeg gewees het, en die sterwe vreesaanjaend. Daarom moet ons deur die krag van die Gees voortdurend nadink oor die geweldige impak wat die opstandingsgebeure op ons lewe maak, en hoe diep en ingrypend die opstanding van Christus ons lewens kom verander het.

[1] Artikel voorberei vir Die Boodskapper (amptelike blad van die AP Kerk), Maart 2017.