Apokaliptisisme maak die kerk lam

Ai ons volkie darem! Die snert wat mense so gretig op sosiale media kan versprei maak my lam…

In sy boek, Bad Religion: How we became a nation of heretics, beskryf Ross Douthat in besonderhede wat gebeur het in die geskiedenis van die VSA met die opkoms van die Christendom, veral die Protestantse Christendom sedert die 18de eeu en hoe die Evangelie mettertyd in die hart en die verstand van die volk gesterf het totdat die nasie – nie ateïste is nie, maar goddeloses – mense met ‘n gevoel vir godsdiens en ‘n soeke na reg en verkeerd, maar ‘n hunkering na eie godsdiens en die reg en verkeerd ten opsigte van jou eie voordeel of dié van die “nasie”. In baie opsigte stem wat Douthat van die situasie in die VSA beskryf, vandag ooreen met die trant van sekularisering van Suid-Afrika, en die skokkende vlak van geestelike- en teologiese onderskeidingsvermoë in die deursnee lidmaat se lewe.Een van die redes wat Douthat in ‘n hoofstuk aanvoer vir die sekularisering van die VSA sedert die 1960’s is die beskouing oor die politiek wat verander het. In die eeue vantevore meen Douthat, was die Christendom die lens waardeur almal na alles gekyk het – ook die politiek – maar sedert die 1960’s is die politiek van die VSA meer-en-meer rondom spesifieke figure gebou en nie rondom beginsels nie – veral rondom populistiese figure wat die nasionalistiese strewe van die VSA bevorder het deur hulle te vestig as ‘n “groot broer” wat homself aangestel het om wag te hou oor al die ander lande se doen-en-late en te besluit of daar opgetree moet word indien hulle nie in die belang van die VSA beweeg nie. Hierdie populistiese figure en leiers, meen Douthat,  het geteer op Christelike temas, soos dat die VSA die nuwe Israel is wat deur God uitverkies is, dat die vaders van die nasie soos profete van ouds die oordeel van God oor die heidennasies bring en dat die stryd wat Israel gehad het in die Ou Testament teen die nasies van die tyd as redes aangevoer moet word waarom daar militêre optrede teen sekere lande behoort te wees. In die proses, meen Douthat, het baie Amerikaners ‘n nasionalistiese messianisme ontwikkel, waarin hulle glo dat die nuwe hemel en die nuwe aarde hier-en-nou gevestig kan word in ‘n Utopia van vrede en voorspoed en finansiële vryheid. Hierdie soort messianisme, kweek noodwendig ‘n meerderheidsgevoel teenoor ander volke en nasies en plaas die mens op die troon van sy eie heil in plaas van voor die troon van God. Douthat wys meesterlik daarop dat die teendeel egter net so waar kan wees: waar messianisme ‘n verwagting skep en nie uitwerk soos gehoop is nie, kom die “ander suster uit die kelder uit waar sy opgesluit was vir jare”. Haar naam is Apokaliptisisme. Niemand steur hulle eintlik aan hierdie suster nie omdat sy skril skree en nie samehangend praat nie, maar sy is net so gevaarlik soos messianisme. Sy word sigbaar in allerhande samesweringsteorieë wat mense uitdink. Apokaliptisisme is paranoïes – sy sien doem en vuur in elke plan, sy sien bybedoelings in elke voorstel, en hoor intimidasie in elke nuusberig. Die goddeloosheid van messianisme en apokaliptisisme het egter nie net die VSA beetgepak nie. Ons word gebombardeer met whatsapp-boodskappe wat ons vertel van katastrofiese planne van uitwissing en massa vernietiging en grootskaalse komplotte, massa histerie en die bose planne van almal wat ons haat – en mense teer daarop!! Sosiale media kan bruikbaar wees maar word ‘n gereedskapstuk in die hooploosheid van die goddeloosheid van apokaliptisisme, waarteen ons voortdurend moet waak en bly preek.

In plaas van op God vertrou, ontaard die soort teologie dikwels in valse ideologie van sameswerings, wat die vyand in elke binnekring wil uitwys en die voorsienigheid van God verdraai tot ‘n valse hoop op ‘n messias wat nog moet kom – ‘n messias wat die goeie ou verlede gaan terugbring en alles weer sal maak soos dit was. Dit is die inhoud van die goddeloosheid van messianisme. Aan die ander kant is baie van jou en my mense in die greep van apokaliptisisme. Dit is die goddeloosheid van uitsigloosheid en wanhoop wat doem en vuur in alles rondom hulle sien, en niemand kan volgens hulle iets reg doen nie. Die goddeloosheid van apokaliptisisme maak die kerk en sy getuienis lam. En as jy weer ‘n boodskap kry wat jou oproep om in die ondergrondse tonnels te gaan wegkruip want die hele wêreld is besig om te vergaan, stuur die woorde van Christus terug: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde” – Matt. 28:19.