Afrikaanse Bybel vandag 85 jaar gelede in gebruik geneem

Ons lees vandag die Bybel in Afrikaans. So ‘n vertaling het nie sommer oornag ontstaan nie. Die “dringende behoefte aan ‘n Bybel in Afrikaans” is reeds in 1872 in ‘n artikel deur Arnolus Pannevis bepleit. Op 27 Augustus 1933 is die eerste amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans in gebruik geneem tydens ‘n feestelike geleentheid in Bloemfontein.  Vandag 85 jaar gelede!

En vandag is daar steeds werk aan Bybelvertalings in Afrikaans nodig. Die vertaling van die Bybel is ’n deurlopende taak van die kerk. Dit sal altyd tot by die wederkoms so wees dat die Bybel vertaal word. Alle tale verander met verloop van tyd. Daarom is dit nodig dat die Bybel voortdurend vertaal word. Ons kennis van die Bybelse tale verbeter en dit gee ons nuwe insigte in die verstaan van die Bybel. Bybelvertalings is nie volmaak nie, omdat dit mense is wat die vertaalwerk doen, en daarom is daar altyd moontlikhede om iets wat vertaal is beter te vertaal.

Ons is dankbaar dat die Vader dit so beskik het dat ons vandag 85 jaar van Bybelvertaling in Afrikaans kan vier en hoop dat die Bybel in Afrikaans nog deur die geslagte wat kom gelees en waardeer sal kan word.