Advent of advena? Hoe gedenk ons die Kind in die krip?

Ons nader die einde van die jaar en binnekort is dit Adventstyd in die kerklike kalender.

Wat is advent? Afgelei van die woord wat “koms” beteken, herdenk gelowiges die koms van die Seun van God na die aarde om versoening te bewerk deur sy kruisdood en opstanding.Die bekende K. Dijk verduidelik die belang van die beplanning van die prediking rondom die kerklike jaar soos volg: “We willen dus de sgn. Kerklijk jaar houden voor de prediking en om haar als centrum voor de gehele eredienst”.

In die Christelike kalender word die kerklike jaar so ingedeel:

Christus se koms in sy vernedering:
In advent
In die Kersfeit

Christus se werk in sy vernedering:
In sy omwandeling op aarde.
In sy lyde en sterwe.

Christus se koms in sy verhoging:
In sy opstanding.
In sy hemelvaart.

Christus se werk in sy verhoging:
In die uitstorting van die Heilige Gees.
In die stigting van sy Kerk in die Nuwe Verbond.

Christus se koms in sy volkome heerlikheid:
In die tekens van die tyd.
In sy wederkoms.

Met Adventsprediking word die voorbereidende prediking met die oog op Kersfees, asook die prediking op Kersfeesdag bedoel. Ons moet dit as eenheid sien. Dit is gebruik dat ons reeds drie of vier weke voor Kersfees hiermee begin. Gewoonlik hou die liturg hom strenger aan die Lydensweke as aan die Adventsweke. Ons moet egter besef dat die koms van Christus na die aarde só belangrik is dat ons nie net een Sondag daaraan kan wy nie. Ook is dit belangrik om die gemeente voor te berei vir die betekenis van die Kersfees. Juis in ons wêreld waarin die sekularisme die kerklike ontkerklik, en die heilige ontheilig, slaan dit ook sy ysterklou in op die Kersfees en die manier hoe Christene Kersfees vier. Dikwels bly daar van Christusfees net die fees oor en niks van  Christus nie. Dit is by baie nie `n Christus-komsfees nie. Die feestelike stemming word ontstem deur allerlei bykomstige fieterjasies en bygelowe.

Die kerk sal weereens die advent (advento = om te nader, om te kom) in die prediking as Christus se adventus moet laat weerklink. Te veel het Christus se advent,`n advena (dit is: vreemd, vreemdeling) geword.

Adventstyd is vir my persoonlik een van die moeilikste tye van die kerklike jaar om preekstof te vind wat nie na herhaling gaan klink nie. Wat preek mens hierdie Adventstyd wat nog nie gepreek is nie? Een van die beste boeke wat ek onlangs gelees het, wat ‘n vars blik gee op die ware betekenis van Kersfees, is die nuwe boek van Sinclair B. Ferguson met die titel: Child in the manger. The true meaning of Christmas. 

fergusons

In hierdie werk wys Ferguson hoe die geskiedenis in werklikheid in twee gebreek word deur die koms van Christus, en dat tot-en-met-die koms van die post-modernisme (wat hy die “hiper-sensitiewe era” noem), die geskiedenis verdeel was in voor Christus en na Christus. Vandag word selfs in teologiese werke die terme “voor die huidige era” en “na die huidige era” gevind, wat bevestig dat die koms van Christus as hoofmoment van die geskiedenis onder beleg is.

Ferguson wys in hierdie baie interressante, en baie leersame werk, die belang van die ware betekenis van Kersfees. Hierin is heelwat vars gedagtes met die oog op die prediking in Advent en beslis ‘n boek waarvan lidmate ook kan kennis neem.